Gedigte van Ankia Pienaar

Indeks van digters

Jy’s somer vir my

Jakarandas is geelgroen
‘n Middelseisoen
Hier buite ons venster
Waardeur somerson loer
Jy’s nie hier nie
Maar ek dink steeds aan jou
Hoe ons liefde
Die aand terug wil hou
Want jy’s Somer vir my
Jou glimlag is sonlig vir my
Ons saamwees maak my heel
Terwyl die lig hier oor my voete speel
Die deken nog deurmekaar
Twee bekers staan vuil
‘n Paar cd’s het covers geruil
Jou hemp van gistraand langs my skoene op die mat
En ek wens ek kon als net so laat
Totdat jou hande weer aan my raak
Want jy’s soos ‘n droom vir my
En ek’s bang die droom gaan verby
Is jy die man in die maan?
Of lê ons liefde ook hier in
Swarthout rame geraam?
Want jy’s Somer vir my
Jou glimlag is sonlig vir my
Ons saamwees maak my heel
Terwyl die lig hier oor my voete speel

‘n versugting

‘n versugting
nie ‘n woord nie
bly vir my
die oranje geelgoud van ‘n soen
dra die lliefde oor my drumpel
met nardusmond wat vreugde bloem
na die blou die bly
van ‘n hand wat my
ver verby die harsland kry
tel my oor die wêreld se jok
na ‘n plek waar ons die liefde lok
weg van hier, jou hand in myne
jy’s die man met geelson ryme
oor soetgeit en safraan se proe
dans ons as skemer liggies roer
en so vergeet van nanag swart
net jy dit bly
my rooi-rooi hart
speel-speel in die watervoor
‘n oomblik terug my hart verloor

clarens

onthou jy nog die oggend
in die arms van die wind
toe berg horeb oorkant sinaii
in slierte misreen sink

die trappies hier vol mos
gelukkig teen die vraag
of eendag sy eie eindes skryf
met ink wat stilletjies vervaag

ek het jou daar gesien
waar lesotho voor jou kniel
as die koue en die vrystaat saam
jou naam neerle in my siel

jy het jou reenjas aangehad
in jou hand was ‘n volryp vy
tussen garingboom en aalwyn deur
het jy teruggekyk na my

jy’t my naam aan die rante, sag, gesê
waar wilde proteas en gras
sidder onder die strelings van jou hand
waar hart en veld net joune was

in die skuilings van jou hand
het jy my vraag toe nie vergeet
en met die omkyk terug na my
van al my huiwerings geweet

jou lag het my laat glimlag
oor die antwoord afgemeet
dat die verlange van die blouste berg
ook van die liefde weet

my woorde het soos jakkalsies
gekruip, tot waar jy stil
teen die lig van die oggend vir my sit en wag
om my met jou te vul

daar waar swerms teen blou en wit
stippels skadu teen die land
waar die grondpad skewe draaie loop
om sy toekoms te gaan vind

hebrews…Christ was made perfect through what he suffered

saam

ek soek jou in die strate van my stad
tussen bekende vreemdes in 4de laan
ek soek jou hier oorkant my
en jou verstaan
maar meeste van als die woordjie “saam”

ek mis jou arms om my lyf
die feit dat dit ‘n storie oor ons skryf
ek mis die liefde in jou stem
en die feit dat ek jou ken
as die eerste lenteblom die winter wen

die aand huil sy skemer weg vanaand
die kanna’s in my tuin word rooi vanaand
die straat leen sy ligte
om my donker te verbloem
as ek vanaand jou naam oor Jo’burg noem

hier lê nog steeds stukkies van jou rond
maar God, en nie die tyd nie, maak gesond
want al sou die son sy strale
hier by jou en my kom soek
bly jy, nes my hart,
‘n geslote boek

ek soek jou in die strate van my stad
tussen bekende vreemdes in 4de laan
ek soek jou hier oorkant my
en jou verstaan
maar meeste van als die woordjie “saam”

vir jou

ek sit en kyk terwyl jy slaap
die skurwe horison van jou gees lê naak
die grense van jou drome lê oop voor my
en ek…
ek begin jou liefkry

jy lyk of jy lekker sal kan vry
en jy lyk of jy net so lekker kan baklei
jy vra…’kan jy bid vir my?’
en ek…
ek begin jou liefkry

netnou as jy wakkerword
sal ek gaan koffie maak
en sit en luister waaroor jy praat
en jy sal dit nie weet nie
maar ek’t jou liefgekry
toe jy in jou slaap
praat met my

vir ‘n vreemdeling

‘n storie
wat homself vertel
liefde
in ‘n vuur
afwesig bly jou buitelyn
my miskyk in die uur

rakelings gestreel
jou hande oor my vel
engelvlerke
wind se vat
‘n hart se skelm steel

ek skryf oor soen en nardus
safraan in ‘n gedig
dra jou oor my drumpel
in liefdestaal gesus

maar stories word net woorde
wat wegvlieg in die aand
en stil inkruip teenaan
‘n vreemdeling se slaap

nou kaalvoet voor Jou brandbos
sal ek my warmhou
Jou arms bly ‘n wegkruipplek
wat geheime vir my hou

olie word ‘n traan
Jou wonder in ‘n droom
as Jy my neem
in lyf se vlug
na ‘n wêreld waar Jy woon

Jou arms dra my weg
word horison ‘n lyn
en wolk en see
soos ons verstaan
in eenvoud net verdwyn

Jou stem
is bloot net koestering
Jou vashou onbegrens
en Jy Persoon
Beminde
vervul my elke wens

nou word isak net ‘n seun
en ek toe nooit die lam
abraham se naam net koue wind
wat aan die sonkant hang

Immanuel

“Heer U is altyd by my
U hou U hande oor my
U is voor my
langs my
rondom my
elke dag…”

in respons tot dit wat Jy sê
moet ek myself net eers gou neerlê
voordat dit wat deur my moet vertrek
soos ‘n dorsland voor my uitstrek
warmgebak deur die oggendson
die lande van my siel opsom
: plat en kaalgestroop – omgeploeg en naak –
my saailand kom offer vir die praat wat Jy praat
net voor die vloed wat ek reeds voel dreun
my oopvlek en skoonvee soos ‘n reënbui deurween
voordat ek totaal gaan oorgee
wil ek net gou my trots kom doodvee
dit wat geskryf staan met skewe krom letters
verwyte gekryt, geperk deur my menswees
kom offer soos my hart
en my liggaam neerbuig soos Jou horison gaan lê
met vlees uitroep wat my gees sag hier binne sê:
Eerste Liefde soos wat ek hier sien
Enigste Woord wat genesing be-dien
Grootste God, my vriend, my Heer
net gou voordat ek nie meer die dagbreek kan keer
en gees en gloed, self laat verbeur
dat Jy, dis wat ek wil sê,
met elke waarheid wat Jy in my skoot neerlê
en met Jou liefwees wat jy so onselfsugtig in my belê
Jou woorde nommerpas
my siel se ganse vlakte, net onmenslik nodeloos verras.

Sukkellende Tankwa: vir jou

die Cederberg leun moeg sy lyf teen Citrusdal
en my pad baan ‘n weg om in liefde te val
kronkel grondpad jou onthou by my venster verby
dink ek ‘n oomblik aan jou, bere ‘n leeftyd by my
terug in ‘n album met iemand amper soos jy
en ek onthou nou jy sou nie eens omgee
as die Swartveld verbygly
die trekke van jou image bly net beelde in my kop
gevorm met kunstenaarvingers tot iets wat my omgee uitlok
dit was toe nooit jy wat my liefde kon betree
dit was net ‘n verbeeldingsprent – ‘n karakter wat ek jou naam gee
gooi die foto’s een vir een teenaan die teerpad weg
lê jou vir ewig neer teenaan die Bergvallei se rug
bo-oor jou trek ek die storie van my hart
soos ‘n doodskleed vorm ek my prent oor jou vel, soos ek wegstap
en die woorde van jou stem en die helder van jou lag
gooi ek vir altyd oor my linkerskouer na die nag
wag vir ‘n oomblik om te pass – rusplek by “Jou laagte”
en die wete kruip stadig in begrip uit die vaagte
elke moment van ons was deels gebou met my drome
en ek was nooit aan jou vergeet-van-my gebonde
jy was net projeksie van my tonaliteit
en die kleure waarop ek verlief was het lankal reeds verblyk
al die tyd wat my hartseer wou dubbeld opvou in my verlang
en die grysheid van jou weggaan my geluk wou kom vervang
was ‘n ligspieël wat ek nou-eers in my hand kan vang
ek asem elke deel van jou in die skemerte uit
voel die grootsheid van die vlaktes my van iewers af bekruip
die spasie en die vryheid maak skommels op die horison
as die vrede van onverwagse waarheid soos ‘n reisiger verbykom:
jy sê / ek het jou nie lief nie, want ek ken net ‘n afdruk van dit
maar die moment is meer werklik waar ek in die winterlug sit
ek vat al my dele terug – trek my kniee tot onder my ken
as ek wakkerword in ‘n halfwoestyn
terwyl ek die sukkellende tankwa verken

As dit reën in Melville: song #2

daar’s die droom van jou
in hierdie uitgestrekte dag
so seker soos die reeuml;n val
in Melville vannag
daar’s die droom van koffie deur die nag
en liefdesgeheime diep binnekant jou lag

jy maak my wakker as die reën kom
sodat ons twee net kan wees
jy bring my meer as ‘n storm
om jou liefde in te lees
erens in die nag sê jy:
jy’s my meisiekind
sou jy verdwaal
sal’k die aarde platloop
om jou smile net weer te vind

nou sit ek langs jou en wag
vir die reën om op te hou
en ek wonder wat jy dink
as die stilte ons so toevou
iewers in die donker loop my hartseer weg
en erens in hierdie oomblik
maak jy als net weer reg

ek bou vir jou ‘n altaar
op die deining van my hart
en bemin jou met elke liefdeswoord
wat sag hier aan my hand vat
elke oomblik by jou is oorvloed vir my
…ek sal dit nooit verstaan nie
maar jy bemin ook vir my

elke storie

elke storie wat ek skryf
gaan somehow net oor jou
jou verhaal vervolg oor eeue deur
my collective syn onthou

my staaltjies gee
‘n hoofletter aan jou naam
op elke bladsy wat ek skryf
in my kortverhaalbestaan

as ek opstaan
lê jou drome oor my lyf
teken ek verbeeldingsprente
vir die uittog wat jy skryf

jy kies die eenvoud van ‘n woord
om my daar te kry
tot waar die helde van jou buitelyne
my kan kom bevry

jy gee ‘n wegkruipplek waar
my karakters jou ontmoet
jou skrif skryf stories neer wat
my hart sy argiewe laat deursoek

jy’s die skeppersgees stil
wat my winters laat deurleef
oorwinnaar van elke oomblik wat
jou woorde aan my binneste buitekant om vaskleef

net jy

jy bring jou vashou met die wind saam, om my asem weer te kry
waar my trane nog steeds merke los – wat jy vir my gaan uitkry
die wêreld het gaan stilstaan terwyl die more wakker word
en jou warmte lê my matras nog vol as die oggend oor sy rand stort

dit was toe jy wat my hier uit die towerspel kon uitkry
daar waar jou sunsets sorvry oor die verste rante skuinsle
jou woorde lê reeds uitgedink as die skemer dit kom haal
en jou stiltes my weer opsoek as die winter kaal verbygaan

leer my snedes van jou nuwe taal terwyl ons in liefde se voetpad aanstap
en ons slowdance onder die nuwe maan waar hartseer iewers wegraak
lê my neer teenaan die nag se vel, waar ons arms weer kan saamslaap
draai my toe in my verlang na jou, net voor drome my kom opraap

deur vlak waters wat my dors les loop ek terug na dit wat saakmaak
bly die liefde van jou offer steeds die substance wat my volmaak
ek bou vir jou ‘n altaar op die deining van my hart
tot jou rus my iewers heenvat voor die donker my kom bangmaak

notebook vol beloftes

met ‘n backpack vol drome – jou vreemde te verken
verloor in jou donkerte – om in jou waters te swem
my notebook vol beloftes geskryf in jou hand
lê liefde sy kop neer teen my boesem vanaand
in die wye oop vlaktes loop verlatenheid se kind
haar kaart wys ‘n rigting om die suiderkruis te vind
waar die sterre slaap meng jy die kleure van jou gees
daar sit ons bangwees neer om iets anders te wees
dra my koffer vol verwagtings in die rigting van jou noord
lê my kop neer op jou hemel se eindelose skoot
in die warm van adamsarms – laat die treinspoor ons dra
na ‘n ver stasie waar ons rus kan gaan vra
laat my wakkerword die oggend se horison betree
in ‘n ander land, om my gisters weg te gee
daar waar ek vergifnis vind in die hand van ‘n man
onder ‘n vlasboom se lamplig wat die donkerte vang
in die eindelose blou speel weerkaatsing van my droom
met die diepsee se storms tot aan die wereldrand se soom
daar waar die skrywer gaan om sy verhale te laat druk
oor ‘n moeë reisiger oppad met wense vol geluk

naby my gebroke hart : ‘n lovesong

gee my ‘n bietjie liefde om te survive
skryf vir my ‘n destiny om by te arrive
vir net een aand, stilte en candlelight
gee my jouself om in te delight

gee my liefdeswoorde om oor te sing
bou vir my ‘n damwal vir die trane wat ek bring
droom vir my drome om voor te wag
stuur my ‘n donderstorm om in te lag

gee my net liefde om van te skryf
gee my eerlikheid en die passie van jou lyf
fluister my ‘n lewe om oor te dink
gee my jou woorde om in te sink

as alles inmekaarval en in die wind wegwaai
as die aarde gaan stilstaan en almal voel verraai
as net die reuk van die reen hier agterbly
erken ek ook nou…dis net jy
wat kan bevry

is jou liefdeswoorde waar wat jy hier laat lê
en jou beloftes vol wat jy so maklik sê
sal jou arms my warmhou soos die son
sal jy my begeertes saambring as jy eendag terugkom

gee my ‘n gebreekte hart om jou te dien
gee my die oe van ‘n kind om jou vlasbome te sien
gee my die uithoek van jou aarde se kant
gee my die grond van jou horison land

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar