Gedigte van Anntoneta Joubert

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Jasmyn

Jasmyn met jou sterk
gekruide soet geur
wat hier buite blom,
sê jy my
die winter is verby.
want die silwer berkeboom
staan soos ‘n beminde bruid
met jou ragfyn blomme-kant
om haar bruin vel getooi.
Doudruppels skitter
soos koper en goud
as hul die goudgeel lag
van die son gryp.
Jasmyn, brose prag
kortstondige hersenskim
roesbruin verdroog
verwelkte skoonheid.

Die hande van ‘n Boervrou

Het jy al gesien …
… hoe die hande van ‘n boervrou lyk?
Vingers knopperig, skurf en krom
soos die takke van ‘n droë boom …
– lees daarin haar verhaal
… van swaarkry, lief en leed
maar kyk ook op in haar oë
en sien dat hul blink
– sien dat hul straal
want haar plek in die hemel,
het sy lank reeds betaal.

‘n Boom word aan sy vrugte geken,
‘n goeie vrou – aan haar deugde.
Haar kinders dra klere van linne en wol
… ploegskaar in die hand, hou sy hul mage vol.
Sy praat met wysheid en gee leiding met liefde,
… haar man steun op haar …
… haar kinders bewonder haar …
– haar lamp bly altyd brand.
Vir armes is sy ‘n toevlugsoord,
behoeftiges voed sy
– uit haar lewensbrood.

Soos ‘n boom wat naak in die koue staan
… het sy gewag …
… toe die winter kom en die Jasmyn begin blom …
– het HY haar kom haal.
Nou sing sy met die stem van ‘n tortel
… en haar hande is sag …
… as sy raak aan die wolke, hoor jy haar lag.

ongetiteld

Aan mekaar gesluit in
akkurate vlugformasie
stil gedagtes
van twee mense.

Vlugtig soos ‘n skaduwee
die ontmoeting van
hul oë, ontydig
onverstoord.

Die noodkreet uit hul
hart, ingewikkeld soos die
touwerk van ‘n seilskip
gesteelde water – soet.

Môre – dag aangekondig
met geur van aalwyn,
heuning en kaneel
gister verby.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar