Kinders van die Namib

Tydloos die Land!
Tydloos die Dier!

Swartgrys die reuse van die Namib
– kinders van hierdie ewige oneindige land!
Swaar lywe geriffel soos ouboom se bas
– oppad na die waterbron in die sandland.
Volg die Moeder Matriarg – stadig, statig,
– voetjie vir voetjie in ritmiese gelid.
Sy alleen ken die geheim,
– ken die weg na die waterbron.
Sy alleen dra die kennis, die wysheid
deur voorgeslagte aan haar oorgedra.

Grys reuse in ‘n ry, in die Namib se woestyn.
Swenk nie links, swenk nie regs
– volg die Wyse Moeder op haar weg!
Deur laagtes aan die voet van sandduine
– op ‘n veilige roete tussen berg en kloof,
waar son uit die blouste, blou hemel
sonder genade op die sandland neerbrand
en lang, skurwe slurpe oranje woestynsand blaas
oor warm, grysvel olifantlywe.

Afrika kinders, doelgerig op hul weg
voort op woestynwerf se lang pad.
Tot die son die aand goud en oranje kleur,
– tot die dag groet en die nag begin.
Reus van die Namib met ongestrykte vel
– waar vind jy rus vir môre se nog ‘n dag,
– waar hou die maan en stêrre oor jou wag,
– waar bewaar woestyn en sand en berg
‘n veilige skuiling vir Namib Olifant in die nag?Hannetjie Scheepers

Eenkant Kind van die Drakensberg

Takke kraak, klippe rol!
Trap sag, loop ligvoet!
Daar is ‘n onrus wat broei,
‘n koue angs wat groei!
Behoed ons van wêreldverhitting!
Bewaar hierdie juweel van Afrika!

Massiewe voëls van staal,
laag in vlug oor hoë pieke.
Swaargewielde masjiendrake
wiegel-waggel kreunend
die hoogste hoogtes uit
– vertrap die siel van die Berg!

Brandstofdampe, stofstorms
verduister son se lig!
‘n Enkel waterstroom
langsaam bergaf gedwing
op ‘n ongekende kronkelweg
– oppad na nêrens!

‘n Ou boom se wortels sterf
in die uitgeholde skoot van die Berg.
Caledonrivier se laaste waterstroom
– deur son se strale verswelg.
Lewe getap uit mens en dier,
– uit Berg en Rivier!

Eeue oue Malutis
– eens hemelhoog teen blou lug uitgetroon,
nou versmoor in roet en stof!
Wêreldvernietigende waansin
hang dreigend oor die Hoogland!
Angstig sidder mens en berg.

Gooi die dolosse!
Spits jou ore vir ‘n boodskap
vir ‘n belofte van hoop.
Bewaar die Malutis!
Bewaar hierdie Eenkant Kind
van die Drakensberg!
Hy’s meer as net Berg!
Hy’s die begin, hy’s die einde
van hierdie Hoogland!Hannetjie Scheepers

Swart kat van die Nag

Swart jaguar
van die nag,
siel van die donker,
skaduwee wat roer
in die skemer.
Ineen geweef
tot ‘n vreemde mistiek
– jy en die bosnag!

Net een oomblik
in die maan se skyn
jou donker beeld
ligvoet in vlug
sluipend,
geluidloos,
tot jy wegsmelt
in die duister
van die nag.

Uit die glimmende grasie
van jou swart lyf
weerkaatsing van
ougoudgeel oë
in die maan se lig.
Waar skuil jy in die dag,
waar koester jy jou kroos,
waar versteek jy jou prooi
  vir nog ‘n môre se maal?

Maak jou skuiling veilig,
maak jou skuiling ver
– verweg uit die oog
van elke dag se vyand
op jou spoor
– geweer in die hand
tot jy – glimmende swart kat
‘n mite word
‘n swart prentjie
met ougoudgeel oë
geleen uit ‘n boek
op gister se rak!Hannetjie Scheepers

Droomland

Kom lag, kom sing
kom leef in hierdie land
langs die koue oseaan
waar die sagte geruis
van sandstorms
waai oor die
goue woestyn
en die maan
silwer strepe verf
oor ‘n droomland.

Dans met my
op die strand
op die maat van
‘n Duitse wals
op die koue
Hentiesbaai se strand
op ‘n dansvloer van sand.
Ou spore van gister uitgewis
weggevee deur golwe
wat rol en rol
uit die Atlantiese see.

Dans onder die brûe
van hierdie mooi land.
Hou ‘n braai
in die laataand
onder ‘n brug.
‘n Bier in die hand
‘n bier gebrou
in die kelders
van ons eie land.

Kuier om ‘n kampvuur
  in die bos
waar rooi kole
gloei in die nag.
Waar spookbeelde
  skadus gooi
  met donkermaan
en sing die lied
van die sandland,
die woestynland,
die land so hart
soos die eeue-ou
  kameeldoring!Hannetjie Scheepers

Nag van Waarheid

Onweerswolke
laag en swaar,
grys en swart.
Grommend, dreigend
– die stormwind.
Verwoede natuur
vol waansin
bliksem hierdie nag verby.
Palmboom se besemblare
swaai op en af,
swiep met ‘n sliesh
oor die grond,
vee skoon die sirkel
om die ou boom se stam.

Warrelende winterwind
ys in jou skrede
sny koud en skraal
deur stad en land.
Ysig kil – genadeloos!
Dwarrelwind versamel
gister se flenters.
Draai stof en sand
en rommel deurmekaar,
strooi dit straataf
– versmoor elke klein gehug.

Boom se tak,
huis se dak
afgeruk, opgefrommel,
eenkant gesmyt!
Totale verswoesting,
volslae verwarring!
Verpletterd – mens en dier!
Ekstase vir ‘n siek gemoed.
Net donker nag van dood
vind ‘n vesting in hierdie land.Hannetjie Scheepers

Nimmer-Nimmer Land

Golwe spoel nie meer uit op die strand,
bruisende branders breek nie meer teen rotse
en sandlopertjie se elke spoor uitgewis op die sand!

Die rokie draai nie meer uit die skoorsteen.
Winterwind waai nie gister se koerant straataf.
Nagtegaal sing nie meer, en kinders lag nie meer.

Die son bring nie meer nuwe lewe in die lente.
Herfs se baie kleure droog uit tot grys en swart
en wintertyd se koue yswind warrel by my verby!

Ek is nie meer Ek, en Jy is nie meer Jy
– ons het Niemand geword.
Hoop en drome van gister opgedroog
– uitgerafel, afgeskryf,
weggewaai tot ver in ‘n Nimmer-Nimmer Land.Hannetjie Scheepers

‘n Venster in jou Hemelhoekie

Is daar in venster in jou Hemelhoekie
– in jou nuwe huis, jou heilige vesting?
Kyk jou venster uit op hier die aarde
– hierdie bestaan sonder rede.

Verstaan jy wat in hierdie land gebeur?
Is dit hoekom jy gegroet het?
Jou lewensdeur toegemaak het,
‘n laaste maal die sleutel
in jou lewenslot gedraai het?

Het haat, moord, dood
jou weg gebaan?
Het jy gegroet
terwyl jy nog die krag,
die moed van die jeug
in jou jong liggaam gedra het?
Het jy die blink stêr geword
wat vonkel in die nag?
Is jy by ons – al is jy ver?Hannetjie Scheepers

Jy Bly By My

Jy’t gekom in die dag
jy’t gegaan in die nag
en ek het die pad wat jy loop
nooit verstaan.
Hartseer skuil agter krans,
agter bos,
in die vlam van ‘n kers se lig,
in ‘n graf.
Nag se donker hou my vas.
Ingesluk my son, my lig
en buite die suurstofkring
hoor ek jou roep.

Tussen oggend en aand
verdwyn my dag.
Son sak weg,
ontvlug hierdie aardse koekon.
Suiderkruisglans ingesluk
deur donker uitspansel.
Helderste stêr se flikker doof uit.
Yskoud die winterwind wat waai
– koud in my hart,
– koud in my siel.
Net jy bly by my.
Jou naam, jou beeld
in warmte uitgekerf
in die diepste dieptes van my siel.Hannetjie Scheepers

Spore van Gister

Vat my hand,
loop weer saam met my
terug op ons spore van gister.
Terug na waar ons begin het
in ‘n stad, in ‘n land,
– ver van hier!
‘n Aarde so ruim
so groots,
so Ons!
Gister se Suidwes,
vandag se Namibië.

Land waar die sonbesies lag
warm son ons lywe koester ,
ons spore in die sand
– langs mekaar,
– verby mekaar,
– uitmekaar!
Drome wat nie wyk,
wat ons terugneem
op ‘n pad wat was
– ‘n onuitwisbare pad!

Band van gister,
van nou, van môre!
Jy is in hierdie land
– hierdie land is in jou!
Ons drome, my drome …
en jy die een wat ek liefhet!
Sal ons weer saam loop
deur ruie bosland,
barre woestynsand,
lafenis soek
in koel branders
van Atlantis se see?

Laat my siel terugkeer na ‘n aarde
diep in my wese gewortel!
Terug op ou spore
in droë rivierbeddens
waar middagson die klippe skroei.
Hand aan hand in die nag
as die woestyn koud word.
Twee siele in passie
met gister en eergister,
as die maan toekyk
as die stêrre onthou
van liefde in die lente
en drome in die somer
– en jy die een wat ek liefhet!Hannetjie Scheepers

Mooiste Land!

Namibië ‘n koningkryk, Etosha ‘n toevlugsoord!
Blaarlose droë bome op die rand van goue woestynland.
Yl vlieswolke strooi wit vlekke oor ‘n uitspansel van blou,
Oshonas in ‘n Joselfskleed van somerwaterlelie-kleure.

‘n Tuin van Eden – ‘n diereparadys, waar jakkals snags veilig slaap.
Langnek kameelperd oor vlaktes tuur, olifant in ‘n modderpoel plas.
Land van trotse gemsbok, van swart renoster wat uit klein ogies loer.
Waar groot maanhaar se brul oor vlaktes rol en rol en hiëna laggend skel!

Idilliese Weskusland van Oranje tot waar die Kunene vloei
in die spore van gister se mense – mense sonder vrese!
Met donkermaan baljaar Kohlmanskop se spoke op die duine,
vreemde winde loei om hoeke van ‘n sandverwaaide murasie.

‘n Dorp in Duitsland geleen, Swakopmund hier kom neersit.
Op dorpswerf, langs goue strand – witgebleikte perdegebeentes
– gister in sandduine begrawe, oopgespoel, weer begrawe.
Ou oorlogsgeheim bewaar in die hart van sand en see!

Skedelkus van die dood – skeepswrakke oor canyons gestrooi.
Wyd lê die woestynland, nog wyer strek die eindelose horison.
Welwitchia Mirabilis – wonderplant, waterbron, opgaartenk in dorre land,
breë blare gekrul, deurmekaar verstrengel onder ‘n son wat skroei.

In die laatmiddaguur vlam Brandberg se koppe rooi in die verte.
Duskant rasende waters van Ruacana – die land van trotse Ovahimba’s,
aardse kinders wie se kuns soos ‘n melodie uit vlytige vingers vloei.
Land van kontraste, land van baie drome, land van my drome!Hannetjie Scheepers

Saluut aan die Wingerdstok

Wingerdstok uit Noag se tuin
– rond en soet die korrels saamgetros.
Lig die kleur van die witdruif,
diep en donker glans die rooipers korrel
liefdesvrug uit ou Bybelse land,
– sag en ryk en vol!

Houtvate in koue kelders koester die oes van die druiweland.
Toegewyd die wynmaker – verhewe sy taak!
Om-en-om draai die fynproewer die vog in die glas.
‘n Geur van rypheid, van volheid,
proe dit weer en weer
– ‘n ritueel – ‘n saluut aan die wingerdstok.

Geluk, vreugde, oorwinning
– hoor die klink van die glasie.
Warm weerkaatsing vasgevang in die helder ligtekring!
Uitgesoekte etiket – klassieke fleur aan die etetafel!
‘n Saluut aan die wingerdstok
– erfenis uit Noag se tuin!

Nagmaalswyn – verhewe status van die druif se sap,
simbool van ‘n heilige verbond,
‘n belofte uit die ou verlede!
Van die vrug uit die wingerdland
vertroosing vir die mensesiel
die wonderwerk van lank gelede
– net eenmaal het water wyn geword!Hannetjie Scheepers

Skaduwee

Donker skaduwee waarom volg jy my
– geluidloos stil op my spoor elke dag!
Jou wese in duisend figure
vasgegroei aan my voet se sool.

Is jy Sonding? Is jy Ligding?
Buite die ligkring krimp jy kleiner
– verdwyn jy want donker nag sluk jou in!
Wie is jy? Wat is jy?

Ken jy my seer? Ken jy my Lag?
Deel jy my hartseer as jy so om en om my voete draai?
Deel jy my vreugde as jy lank uitgerek soos ‘n maer marionet
rondspring, bontspring, om en om dans saam met my?

Jy ken my gedagtes wat draai in ‘n kolk.
Jy is my metgesel, lag met my, huil met my,
volg my elke dag, bly by my, vasgenael aan my,
want jy is ek – en ek is jy!Hannetjie Scheepers

Son se blom

Geelgeblaarde blom van die Son,
kind van die Dag!
Helder Son se lig gee jou lewe,
donkernagure knak jou blommekop.

Moeder Natuur se wonderplant
– vrolik in helder geel geverf!
Jou kern van swartgrys saad
– krag uit jou hart, voedsel vir vele.

Deur die donkernag wag jy op die môre
jou blik angstig gerig op die Oosterkim
– daar waar Moederson oor die bult kom loer
haar dag se lig om jou kring – juweelkind van die Son!

Mistieke aura sirkel om jou songeel blom
– ‘n massaland in rykste goud getooi.
Volg die Son se pad – van Oos na Wes
– sonkrag in jou hart, jou wese, jou skrede.

Langs die vaal gruispad, onder krans en kloof
tussen groen mielielande jou tafel gedek in geel!
Vang die son se lig, hou dit vas in jou hart
– want jy is Son se Kind, Son se Blom!Hannetjie Scheepers

Katrina

Katrina kom uit die aardse onderwêreld
    die hemel se blou, die nanag se donker.
Katrina lag en sweef in die wolke
    dans en draai saam met die wind!

Katrina is in die gebed van ‘n sterwende siel
    in die weemoed van ‘n klaaglied
    in die trane van ‘n hartseer einde!
Katrina is in die aardse krag wat woedend dreun en grom
    wat malende wolke kleur – grys en donker en dreigend
    die wind verwoestend voortjaag oor die oseaan
    tot die diepsee se deinings berge word!

Katrina sien die woud se dak verdwyn
boomreuse afgekap en weggesleep
elke druppel bosvog opgeslurp deur die son.
Die kwaad uit die aarde se skoot groei tot woede.
‘n Passie van haat in elke kap van die byl!
In wilde waansin sweer Katrina wraak!

Katrina is jurie en regter – sy vel die vonnis.
Orkaanwind en stormsee word Katrina se siel
    en die golf van Mexico betaal die prys.
Mens en dier vlug voor die krag van wind en water
Maar aardbewoners onthou net hierdie uur,
hierdie dag, hierdie maand!
Môre kap die byle voort!

‘n Wêreld doof vir smeekbede uit die hart van die aarde.
‘n Bloudruk vir tragedie!
Katrina se kammerade hou beraad
‘n nuwe aanslag word beplan
môre – oormôre – die dag daarna!
Onheilstekens uit die hart van die aarde
ontwyk steeds die mens.

– Hannetjie Scheepers

Rolbosbrander

Vasgevang soos in die tol van ‘n watertrog
– ‘n rolbosbrander uit die groot oseaan
veilig in ‘n waterkleed van sysag satyn.
Rolbosbrander waar begin jou reis?
Waar soek ek jou eerste deining
– op ‘n ver strand – ‘n eiland sonder naam?

Op die kruin van die rolbosbrander wil ek ry
toegevou in skuimende gryswit waterfluweel.
Ek wil galop oor die deinings van die groot oseaan
tot by die plek waar my droom op my wag.

Neem ‘n stukkie van my siel die diepsee in
spoel die ander ek uit op die strand
aan die kus van die land ver oor die see
– waar my liefde op my wag.

Wyse Godin van die diepsee vat sy hand
lei hom oor die sand op die strand
waar ek wag in my satynsagte rolbosbrander
voor die watertrog skuimend uitmekaarspat
en die son duisende druppels wegsmelt tot niks
– in die sagte sand op die strand.

– Hannetjie Scheepers

Holoog Murasie

Holoog Murasie sielalleen langs die grootpad
hartseer die wind wat huil om jou hoeke!
Groen geraamte met leë gange, leë kamers
groen verf van gister – groen verf van baie gisters!

Outyd se voetpad toegegroei
weggesteek onder somer se onkruid.
Eend se waterpoel opgedroog
– diep barste gekraak in ou modder.

Viervoet windpomp met nog net drie vlerke
staan hand in die sy – in die middel geknak.
Die wind ken hom nie meer,
– sy tjiirr-tjiirr van eers het vasgeroes, stil geword.

Groen Murasie met jou uitgeholde oë
– al jou mense weg, waarheen kan niemand sê.
Swart teerpadslang bring niemand terug
– net vreemdes spoed verby – kyk nie eenmaal om.

‘n Leeftyd lank hier langs die grootpad,
leeg van binne – sonder dak, sonder vloer, sonder lewe.
Groen Murasie met jou ou vensteroë –
moeg van staar na niks, moeg van te lank se wag!

– Hannetjie Scheepers
. NS – Geïnspireer deur ‘n vervalle plaasopstal langs die N3 tussen Harrismith en Villiers.

Die Ander Jy

Die Jy wat was! – ‘n Ander Jy, die Jy wat is!
Gister se son en lag – ons mooiste ure saam,
vandag die “Vergeet-my-Nietjie” langs my stoeptrap!
Voor jou was niks – wat na jou kom maak nie saak.

Jy was die mooiste kleure van die reënboog,
jy is die klippie in my skoen!
Jy was die nuanse van elke nuwe dagbreek,
jy is die donderstorm wat bliksem in die na-nag!

Jy was die sagte prikkelende aroma van my kruietuin,
jy is die skerpste doring van die “Wag-‘n-Bietjie” bos!
Jy was die veraf koer van die vaal duif,
jy is die skerp geskel van die Kwêvoël!

Jy was my warm skuimbad, geurig soos ‘n somertuin,
jy is die koue winterwind wat my laat bibber!
Jy was die grasieuse swaai en draai van die Droomwals,
jy is die wilde woeste ritme van die Klopdans!

Jy was my eerste glimlag in die more,
jy is my laaste traan in die aand!
In die lig van die oggend hoop ek jy’s terug,
in die donker van die nag leef ek ‘n droom saam met jou!

En wanneer jy eendag die terugdraaipad soek
tussen somerbossies, herfsblare, droë wintertakke
is die “Ons” wat was toegegroei in die voetpad van gister.
Ek is nog Ek – Jy is ‘n ander Jy!

– Hannetjie Scheepers

Onding

Siekte sonder naam
kom jy uit Afrika?
Swart sondaarskolle
oor uitverkorenes gestrooi,
Onheilsengel se stempel afgedruk
loodswaar voete sleep moeisaam voort,
lewensvreugde uitgemergel
lewenspad afgesny.
– en die lig van jou siel verdwyn uit jou oë.

Ebola vrees woed deur Afrika.
Broer en suster op die brandstapel
en die as saam weggewaai deur die wind.
“Verdoem is Afrika!”
Maar die wêreld is te klein,
die oordeel te fel.
Tentakels groei,
strek tot in verste skuilings.
Ebola-broer gryp sy kwas
verf sy Kainsmerk – van Parys tot in die States.

Angsgille, wanhoopsgille in die nag!
Besmette dwelmnaald prik ‘n lewensaar.
Eenkant skuil die sterwendes,
Eenkant – weg uit die wêreldoog
nog ‘n asem uitgeblaas –
weer en weer, elke dag, elke uur
van Noord na Suid, van Oos na Wes.
Spyker ‘n bord teen die stadsmuur vas
“Ons sterf aan ‘n siekte sonder naam”.

Onding sluip deur donker steeg.
kruip ekstaties van mens tot mens
vind lêplek in ‘n bed van bloed
Ebola se Ondingbroer grynslag
vermenigvuldig sy gruwelhaat,
Hongerwolf in die Nag – Vigswolf
– vrygelaat, die mensewêreld ingevaar
en die dood sy enigste kameraad.

Uitgeteerde liggaam strompel voort
asem snak deur ‘n moeë lyf
verward gryp maer hande ‘n lamppaal vas.
‘n Mens draai om,
kyk straat af
‘n laaste maal.
Onding grynslag,
skrap nog ‘n naam uit die lewensboek.

– Hannetjie Scheepers

Doodlooppad

Saamlooppad
omdraaipad
doodlooppad!
Witste rook uit swartste skoorsteen
weggewaai deur koue winterwind.
Drome skroomteloos verswelg
net ‘n hart wat klop –
‘n bestaan sonder rede.

Volg my spoor, haal my in,
vergeet my langs die pad.
Ek wag deur songeskroeide dae,
deur soel someraande
deur donkernagure.
Hoop in stukkende skerwe!
Wag op niks
want niks bly oor!

Blare fluister in die wind
takke kraak en breek
Verlede skram weg,
toekoms versmoor
in donker duister.
Iewers het jou pad my vooruitgegaan,
Iewers het ek agtergebly –
verflenterd is die band tussen jou en my.

Branderskuimstreep op goue sand
wegsmelt onder somersonstrale.
Warm sand tussen koue vingers,
Ysgreep omsluit my wese.
Nog ‘n brander,
nog ‘n skuimstreep
verdwyn in die sand,
verdwyn soos ek en jy.

– Hannetjie Scheepers

Cul-de-Sac

Is jy Werklikheid wat was
verbeelding, versinning?
Verwronge droombeelde
deurmekaar verstrengel.
Lewe teruggedraai, omgedraai, weggedraai.
Jou rug gekeer op my Niks Wêreld –
net ek onthou gister
net ek onthou ons dae in die son!

Geluk was in ‘n etensuur,
‘n laat oggend,
‘n vroee middag
‘n koppie tee.
Nou’s geluk ‘n leë vakuum
‘n Doodloopstraat, ‘n Niks Straat
Vreugedeloos –
sonder lig, sonder lag.

Jou hand draai die swaard se punt
deurboor my hart
weer en weer
en nog ‘n keer.
Verbrysel my lewe,
vernietig my hoop
dag na dag
uur na uur!

Jys weg –
   ingesluk deur elke nag se donker
en ek is vasgevang in JOU gister
in JOU straat sonder lewe.
‘n Tree vorentoe, ‘n tree agtertoe.
   geen lig, geen lag!
Net ek alleen
– dwalend deur JOU Cul-de-Sac.

– Hannetjie Scheepers

Waar sal ek jou vind?

(vir Alwyn)

Martelkamer, wroegingsel!
Deur dit alles heen soek ek na jou.
By jou graf – yskoue bottel wyn,
wit langsteel roos in ‘n vaas.
My wyn meng met soutwatertrane,
Joune vloei stadig uit kristalglas,
sypel weg in rooi grafgrond
– graf waar jy wag.

Ek soek jou in die donker uitspansel,
agter die Suiderkruis
tussen die sterre, verby die maan.
Ek hoor jou stem in die wind –
wind wat loei deur die blare,
wat boomtoppe oorbuig,
afbuig in ‘n wilde dans,
en ek saam met die wind huil
om die hoeke van die huis.
Alleen, sonder jou!

– Hannetjie Scheepers

My Moordwalvis Maat

Moordwalvis is jou naam
Jy met jou swart witkol lyf.
Sierlik gly jy deur die Oseane – van land tot land,
tot jou siel jou liggaam uitgeput het.
Is “moord” ‘n merk in jou lewensboek?
Is dit hoekom jy jouself kom uitspoel
    in ‘n dooploop vlakwatergraf?

Jy’s my sielsgenoot, my maat sonder naam.
En as die lewe my rondgegooi het
van kant tot kant, van wal tot wal
gebreek, gekneus, lewensvreugde uitgeput,
sal jou koel soutwatersee my lok,
my watergraf sal ek vind,
iewers in die groot oseaan waar jou tuiste is.

Doodsertifikate geteken en geseël
– myne en joune
In die vlakwater sal ons paaie kruis,
bymekaar verby, teenmekaar verby,
jy oppad na jou vlakwatergraf,
ek dieper en dieper jou waterwêreld in.
   Ons lot is verseël.

Angstige skares op die strand roep om hulp –
“Help! Red hierdie trotse kind van die see,
hy mag nie sterf!” – Tevergeefs!
Warm sonstrale slurp die vog uit jou swart lyf op.
Sal jou kinders in die diepsee tot my redding kom?
Sal hulle onder my weerlose liggaam inswem,
my veilig terugbring tot aan die kant van die strand?

Nee – want ons sal sterf, my maat, ek en jy.
Uurglas leeggeloop, omdraaikans verby.
Saam sing ons ‘n duet vir die Dood –
ek en my moordwalvismaat!
Ons loop ‘n pad – ‘n cul-de-sac,
jy na jou watergraf te vlak,
ek na my sandbed op die bodem van die see.

– Hannetjie Scheepers

Vir Alwyn

Kom ek neem jou saam met my
  – weg uit hierdie stil graf,
weg waar die son fel op die rooibruin grond bak en bak.
Weg van die plek waar bliksemstrale woedend neerslaan,
waar die dreun van die donder die aarde laat tril.
Weg van hier waar die reënstorms slote spoel
  en graf en graf en graf verbind.
Weg waar die wind sonder ophou huil
  – soveel trane saam met my huil.

Kom ek neem jou terug na die plek waar jou esel gestaan het,
Sketsboekblaaie, kwaste, palet en soveel kleure verf,
–   mooiste kleure wat lag en lewe
     wat nie dood is nie
en jou hand wat toor met verf en kwas,
–   kleure gemeng, lig en donker,
–   somer blomtuinkleure
–   winterkleure, vaal en grys en koud.

Kom ek neem jou weg uit hierdie graf,
dan sal die lewe weer lag –
tevrede sal die son en die maan en die sterre toekyk
en trane sal nie meer stroom van my hart, uit my oë,
   oor my wange, op die grond, in die graf nie.
Die pyn sal weg wees, en ek sal bly wees,
Op die vleuels van die wind sal ons lag en sing en dans,
want jy sal weer hier wees.

– Hannetjie Scheepers

Jy is in ‘n Graf

Jy is in ‘n graf en ek val saam met jou
af – af – diep in die graf.
Nou lê jy weer aan my voete,
Want die lewe pluk my terug
en los my alleen
     op die rand,
     aan die kant,
in ‘n wêreld sonder jou.

Gister se kind wat baljaar in die branders
–    laggend, gillend,
–   vreugde onbeperk
–   lewenslus ongetem,
vandag ‘n laaste uitgespoelde skulp
–   ‘n halwe skulp
–   ‘n stukkende skulp
–   ‘n weg skulp
–   weg soos jy
– weggebêre in ‘n kis diep onder die grond.

– Hannetjie Scheepers

Sing ‘n Lied

Sing saam met my ‘n lied –
‘n lentelied in die vroeë voorsomer –
van nuwe kleure en appelbloeiselgeure,
nuwe lewe en opblaaspaddas wat brul.

Sing saam met die wind wat speel deur die blare,
saam met die rooivink, die geelvink, die vaal mossie.
Sing van winterkou en van somerson,
van branders wat breek en maanskyn op water.

Sing in die soel someraande van die sagte donker buite,
van die vrolike kolle op die skoenlapper se vlerk,
van die laaste somerroos se blare wat val,
van gister van verby is en môre wat wink uit ‘n droom.

Sing saam met die langhaar, grys musikant
van hartseer en vreugde in elke dag se lewe.
Sing saam met die klanke van die ou solderklavier,
en skryf ‘n nuwe lied vir die straatkind se eensnaar blikkitaar.

Sing jou lied saam met my – ‘n laaste keer,
Want môre is vandag nog net ‘n gedagte
gebore uit gister se droom.

– Hannetjie Scheepers

Die Dood van ‘n Pous

‘n Heilige groet – vir die heel laaste maal.
Johannes Paulus II is dood
Die Poolse Pous is dood

Krakow, 1942, Ondergronds –
jy maak jou keuse, jy loop jou pad.
Wie was jou leermeester?
Wie is jou volgelinge?
Wat was jou waarheid?
Wat is die wêreld se waarheid?
Ons soek die antwoord in ‘n leë venster.

Halfmas vlae, flikkerende kerse
– en hoor jy die sagte snikke, die geween van skares?
Nege dae – een na die ander afgetel.
Nege dae – saam rou ‘n wêreld oor jou.
Dae met minder lig, nagte met minder donker.
Die susters staar sprakeloos na niks.
Heilige, langrok mans met strak gesigte, geboë hoofde,
voete sleep swaar, sonder krag, deur St. Peters Square.

Sing ‘n lied vir die Poolse Pous.
Hy het regeer soos ‘n koning – ‘n wêreldkoning.
Die grond van die aarde vereer met ‘n kus.
Die wêreld syne gemaak.
Geloof, hoop, liefde met ‘n sagte stem verkondig
Kraletjies gevryf, vertroosting gesoek in ‘n rosary
‘n Lewe geleef van ‘n heiligste heilige
Oorlog geken, gehunker na vrede
Die rykstes ontmoet, die armstes vertroos
Die gesondes, die siekes in een gebed gedra.

Waardige Apostel van vrede,
Sielsgenoot van Mother Theresa,
Katolieke vriend van Jood en Moslem,
van wêreldleiers, van klippekappers –
Insig, kennis, wysheid in een mens vasgevang,

‘n Traan in die oog,
‘n gebed in die hart,
vir die laaste maal – Sing ‘n lied vir die Poolse Pous.

– Hannetjie Scheepers

Jeffreys se Baai

Ou Mister Jeffreys staan voor ‘n vaal geverfde winkeldeur
Geplooide, bruingebrande hand keer die son uit ou moeë oë weg.
  Die meel is min, die suiker ook, die sout is op
– Wanneer kom die smous?

Woeste, wilde seestrome herskryf die landslyn, die baai word uitgedelf, oopgespoel
– half verskuild, half eenkant.
‘n Eeu en ‘n half – toe loop die uurglas leeg – ‘n nuwe Jeffreysbaai bak in die somerson,
Ou Mister Jeffreys se winkel is begrawe – diep onder die kors van die aarde.
   ‘n Seemeeu kras en stort ‘n stille traan.

Agter my los ek ‘n stad met te veel mense,
Voor my lok die nuwe Jeffreysbaai – “Kom na my son, Kom na my see!
    Ek is die Alfa van hierdie kus”.
Wonderwêreld, Droomwêreld – aan Afrika se strand.
Waar die son die see silwer verf
Waar die sand warm deur jou vingers gly
Waar ver agter die brander se breek
silwergrys dolfyne dans op maat van die lied van die see.

Veilige vesting, ver weg uit die waterpad van die oseaan,
Waar vandag wit seeskuim vleiend die goue strand kom streel
en môre weer bolrug branders maak wat rol en maal en druis.
Die planeet se grootstes wat teen hierdie strand kom breek,
En branderplankryers hoog op sy rug laat gly.

Luister – die ver geroep van ‘n walvisreus
Hy vertel ‘n storie van wanhoop, sing ‘n weemoedslied,
Smeek sy mensebroer om hulp –
“Red asseblief hierdie sagmoedige siel van die see”.

Elke môre wat breek oor hierdie skone strand,
Bring geverfde skulp juwele uit die skatkis van die see
– ‘n Geskenk van Koning Neptunus.
Koester hulle met liefde – pasop waar jy trap – hulle breek maklik!

Laatmiddag se sonstrale speel oor die stil water, branders breek vlak
Dis tyd om te groet –
– totsiens see, totsiens sand
– totsiens walvis en dolfyn en hartseer seemeeu.
En ek moet terug na ‘n stad met te veel mense.

– Hannetjie Scheepers

Sonsverduistering – 4 Desember 2002

Die Dagbreek word gefnuik
    Dofgrys duister koekon om my,
    Dofgrys asof van ‘n veraf planeet.

Agter ‘n wolkekleed kerm die son –
   “Jy is weg! Jy is weg!
   Aarde! My Aarde is weg!
   My Lig is verduister,
   My Oog is verblind!
   Grys ‘Eclipse’ het my Aarde verslind!”

Ek staar en soek na die Lig
Groot swart bal aan die hemelgesig –
   is nie Lig nie,
   is nie Son nie,
   is nie Lewe nie!

Geheimsinnig donker, onheilspellend donker!
Ek volg elke dag se straat wat kronkel,
Straat wat wegskram, straat wat wegvlug
Vir die donkergrys verskynsel bo in die lug.
Straatbaan sleep my voort na alledaagse lewe
Tussen elektries verligte komperkamerpanele.

Koffie aroma – donker koffie
   donkerder as die grys daarbuite groet: “Welkom!”
   Welkom in die elektroniese uitspansel tussen blikbreine.
   In jou wêreld verskans teen maanverdonkerde angsseine.

Gepanserde elektriese lig slyp ‘n swaard
Konfronteer die donkergrys gewaad!
   Die Lig groei!
   Die Maan wyk!
   Die Wolke skroei!
Die Son het sy Aarde gevind!
Hoera vir die Son – die ‘Eclipse’ is verslaan!

– Hannetjie Scheepers

Heilige Helena

Die Staat Washington, VSA – 08:32, 18 Mei, 1980
Uitbarsting gelykstaande aan 24 Mega-ton atoomkrag nadat
Mount St. Helen vir 132 jaar aktief was.

Bly stil – luister!
Onheilspellend grom die fetus diep uit die skoot van die berg.
Kermend pleit die Heilige Helena om verlossing,
smeek hierdie groeiende, grommende onding om geboorte
– Sluimerende vulkaniese reus wat kreun van pyn en angs.
Rondom waak die wagters, kennersoë soekend-angstig gerig op die berg,
wagtend op ‘n teken, wagtend op die oordeel.
Wees stil – luister!
Die Heilige Helena gil ‘n kreet van angs – vernietigende aanslag sonder klank!

Iewers in tyd het ‘n siel in liefde oor jou gewaak.
Die naam van ‘n goddelike beminde verewig in jou skoonste beeld.
‘n Bruidsgewaad van sneeu om jou gevou, glinsterend in die strale van die son.
Groots en goed het jy oor afstande heen getroon
tot die bose ongesiens en giftig in jou skoot genes het,
jou dieptes gevul met waansin, jou heiligheid genadeloos geskend.

Die fetus verwronge, swart en boos
– malende rook en vlam en lawa wat bars uit jou lende,
wat verwoestend voortkruip op ‘n pad van wellus.
Angsgevulde wesens vlug – jy eis die hoogste prys.
Gretige, kruipende tonge van vuur lek en slurp in ekstase voort.
Om jou sterf alles wat leef en groei.
‘n Wêreld word stil, ‘n wêreld ween, ‘n wêreld rou in ongeloof.
Magteloos slaan die mensdom die hande saam!

Heilige Helena – jy’t wraak geneem, jou heiligdom herwin, jou siel gereinig.
Ons staan weer stil, ons kyk weer op na waar jy troon oor verre vlaktes heen,
jou hoogste spits ten hemele gerig, skoon gewas van wrede waansin.
En ons onthou – toorn en haat het gister jou siel verkrag,
Maar in glorie en grasie verrys nog weer jou skoonste beeld.

– Hannetjie Scheepers

Onder Afrika se Son

Vir Alwyn

Jy het ´n plek gevind in die son, ´n plek in die skoot van Afrika.
Jy rus onder rooibruin grond, onder hardgebakte kluite,
´n liggaam – so jonk, so mooi, so stil.
God se skepsel, beeldskoon, perfek,
in ´n graf in Afrika se aarde.
Arm is die lewe wat jy agterlaat,
leeg die hande wat smekend reik, maar jou nie vind.

My plek onder Afrika se son het ek afgegee –
dit was nooit myne nie, dit was joune.
Lewensvreugde uitgeput – verlore in ´n land sonder hoop.
Geboortegrond in verkeerde aarde,
smagtend na lewe oor landsgrense heen.
Grypende herinneringe van wilde waansin, van lewenshoop verkrag.
Afrika jy het nog ´n kind in die steek gelaat.

Oopgevlek hierdie wond wat bloei,
wat die pyn soos ´n kleinnood koester.
Die seer sny diep en stadig syfer lewenswaarde weg.
Jy, Afrika, het geneem, jou kind verloën,
die pyn van verlange op my drumpel kom los.
Jou oopgesperde kake sluit ´n graf se deur – vir altyd
En ek staan hier – alleen, vernietig, verpletter – onder Afrika se son.

– Hannetjie Scheepers

Lewer kommentaar

Leave a Reply