Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
My wegkruip-huisie
ek wil vir my ‘n wegkruip-huisie bou
met middernag as mure
die maanlig as deure
die sterretjies as vensters
as die lewe se stoot
my te ver druk
waar niemand kan inkom
en ek beskermend kan skuil
teen die lewe
tot die son se môre-soen
warm op my
wange brand
Briefie aan my kinders
my liefste kinders
daar kom ‘n tyd
wat jy die lewe moet drink
soos ‘n soet oujaarswyn
stadig
slukkie vir slukkie
sodat jy die genot
daarvan moet proe
maar ook ‘n tyd
wat jy voor die dal
van doodskaduwee sal staan
waar jy die brood sal breek
en verwurg daaraan
daar kom ook ‘n tyd
wat ‘n engel in vlug
‘n veer oor jou sal laat val
jy sal dan die melodie hoor
van amazing grace
ook ‘n tyd
waar jy jou voete sal vind
waar jou loop
ophou kruip het
en ‘n tyd
waar ek van bo
vir julle
sal bly pleit
Heer …
bewaar hul treë
op al u weë
Jy en ek
Ek het die son gesien
die maan beleef
tussen die sterre gespeel
die grond gevoel
tussen mense toe oë geloop
die hel ontsnap
met voete
plat op die grond
maar jy het die lewe
in my geroep
my oë laat oopkyk
na wat voor my is
net jammer jou somer
het te laat
in my ontplof
my treë word kort
my uitkyk dof
my herfs het ingeskop
saam moet ek
en jy
jy en ek
die reste
van die lente soek
Jou niemandsland
met soveel wysheid
het rykdom gekom
ryk in onthou
ryk in oudag-leef
ryk in woorde gee
sodat so:
jy als verloor
daardie dag
as jou geheue
‘n ander niemandsland aankleef
waar niks bly
niemand onthou
jou wol-denke
jou lewe beset
jy sal dan onthou
in ‘n split sekonde
jou rykdom hier
as troebel-dood
jou kom neem
leef ryk in onthou
leef ryk in gee
totdat niemandsland jou insluk
en jy arm van gees
die dood aanskou
Ek het so gedink aan jou
Ek het so gedink aan jou
die watervalle in jou oë
die oseaanblou wat skroei
deur soveel dae heen
ek het so gedink aan jou
die vlamme in jou oë
die rooi tonge wat lek
die woede wat knou
ek het so gedink aan jou
die wit wat deur wil breek
die koue ys
as jy omdraai in jou spoor
ek het so gedink aan jou
die verwoesting wat jy saai
jou tornado woord’
wat sal uitwoed
en na jou toe terugdraai
ek het so gedink aan jou …
© Heleen Malherbe
Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.