Kieslys

Close


*/

12 Maart
2009
Gedigte
3461 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Gedigte van Inkara Maria

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za

my beminde

my beminde se hande is porselein
oordek met laag op laag vier-en-twintig karaat yster ingelê met Tanzaniet en goud
en geseënd met arbeid.

hy spel my naam in diamante

sy oë is die kleur van rustigheid na ‘n reënstorm
voor sononder
en wanneer hy na my kyk hang hy diamante om my oë

sy wange is grasvlaktes
met heuningblom besaai

sy lippe is wildebessies
tussen lelies en veldblomme
in ‘n donker vallei

my beminde se liggaam
is koning dawid in marmer

ek bemin hom

sy gestalte is soos die drakensberge
rustig en groot

die geur van my beminde is
soetdoring vars in blom;
reen op droe grond;
goue sade net voor die oes:
dit is die aura om hom

sy verheemelte is die nektaar van lente-bloeisel-heuning-oor-braambessies-
langs-‘n-waterstroom-teen-halfdag-
wanneer-die-vee-rus

sy naam is die geluid van die maanskyn op dou bedekte takke

my beminde is geheel

my liefste Gert Vlok Nel

Die vrou met die ringe aan haar tone hou die weegskaal parallel met haar middelpunt in haar hand vas. Die kinders van die bronsbeeldjie van die middelpunt van die weegskaal hou sy met n uitgestrekte arm vas. In die heks se hare is is ook n sleutel vasgespin: haar oe is toe maar kyk na die twwe figure in haar ander hand en na die veer op die weegskaal.

Sy weet al klaar hoe die wiel gaan draai en ‘n pers druppel loop teen haar wang af tot in haar souterige mondhoek.

want sy is die heks wat die boek van die twaalfde jaar toegesluit het en sy is die heks wat nie tyd kan terug draai nie.

wanneer skryf jy weer vir my iets?

Liefste Gert Vlok Nel (3)

Liefste Gert Vlok Nel
ek raak deurmekaar met jou en Dosie se drome

pers trane tussen reëndruppels
weerkaatsings van siele sondes in rooi sandstorms
wat ek nie meer sien nie

my vriendin het nog steeds nie ‘n partner nie
sy is dik vir haar broer en die delwers

hoekom het ek sy lyf vergeet
en sy stem
en sy oë
o god ek wil onthou hoe hy gelyk het
geruik het

honderd duisend miljoen ligjare verwyderd
met sy nuwe lyf en vir ewig jonk
sal god my genadig wees
en my
sodra my trane opdroog
weer
vyf-en-dertig maak

of vir hom oud?

wie het nou weer gesing van die Kaap en die berge
en Meiringspoort

Sal ons kinders weer drie- en twaalf-jaar oud wees?

© 2005

My Lalie my lief

My dogter het my nou-e-aand ´n vraag gevra
Ek kon haar nie antwoord nie
maar die vraag het bly ego
wat sal jy maak
wat sal jy maak
wat sal jy maak
“my kind
ek sal skreeu en seker mal word
ek sal skrik sodat ek myself seker nie kan help nie as jy daar moet lê
koud en blou

ek sal vir ewig mal wees as jy jouself doodmaak

ek sal nooit ophou om myself te blameer
vir alles
hartseer in jou lewe
ouma en oupa sal jou boetie seker moet grootmaak want ek sal in ´n gestig beland
my kind
ons hele familie sal getref wees soos met ´n freak bliksemstraal

maar as jy daar lê my blom en God het jou kom haal
dan sal ek dalk kan staan my kind
met jou boetie aan my hand
en hande op my skouer
en gebede op my naam

ek sal treur en myself blameer
omdat ek jou nie langer waardig was nie
ek sal treur sonder hoop al sal ek weet
Anneke het Godomgepraat
Ek sal weet God het jou Pa jou laat kom haal
ek sal weet liefste Ouma Salie het jou omhels met ´n stralekrans
van al jou favourites in haar hand

ek sal mal word my kind
van verlange na jou stem wat partymaal so mooi met my praat
ek sal in my drome jou sagte arms om my nek voel
party nagte sekerlik een van daai asem-uit-drukke van as jy-bly-was oor iets
ek sal elke oggend met dieselfde skok wakker word
en weer besef vir die res van my lewe
ek sal na jou reuk verlang
en na jou oë, goudgeel as jy opgewonde was

Ek sal dagdroom van die plaas en die beeste en jou baba-asem in my nek
ek sal onthou van visvang
ek en jy en Pappa-Cat
jy sal altyd in my gedagtes en geheue wees net soos nou

Jou broer sal ons dalk troos met woorde soos:
nou het Cat vir Tina en jy vir my
wanneer ons in die warm son op die graf langs die een-met-vier-kruise sit
sal dit voel asof daar vir ons niks is nie
en later wanneer die wind die reuk van pienk rose ons trane kom droog sal ons
ons dalk verbeel ons hoor jou en Antjie speel
terwyl jou broer met die harde grond sit en delwery speel
ek sal wonder of julle weet hoe vreeslik dit vir ons sonder jou is
my kind

moenie haastig wees nie
God leen ons nou nog vir mekaar
wag ´n bietjie
gee God sy kans
wag ´n bietjie
gee jouself ´n kans

ek staan langs jou
of agter jou of voor jou
ek sal jou optel om beter te sien
ek sal weg staan om jou ruimte te gee
ek sal wegkruip as jy skaam is
ek sal soos n rots tussen jou en gevaar staan
ek saljou vashou as jy hartseer is
ek sal jou uitlos as jy bedonerd is

ek sal tussen-die-lyne-lees en probeer verstaan wat jy min praat

ek sal altyd jou ma wees
ek sal jou probeer keer voor ´n afgrond
en jou wonde ontsmet en jou mooi polse met satyn verbande vasdraai
my kind
my blom
ouma se Katryn en oupa se Parifien
boeta se sussa
my lag my huil my lewe my Lalie my pyn

Februarie

ons sit om die graf
die wind is Augustus maand koud
die son warm
die kleintjie speel met die plastiek aarbeie
hy speel altyd met daai pot
my keel pyn van die sluk aan trane
en die hartsee
en van die ent se water aandra
sy sit soos altyd en vryf sag oor die woorde
van -in -die -tuin
terwyl die trane oor haar wange droogwaai

en nou is ons in Potch
in die middel van Februarie
die begin na nerens
hier is niks niks
die grond hier is as-vaal
blou stof
die modder na die reen is vuil grys
die akkerbome is groen
maar ek ken hulle nie

ek verlang na my terracotta sandstorms
na die vrugbare rooi grond
om my
onder my
n skoon wind wat waai
die sonneblomme en die dou by my stukkende venster inwaai
my reuse vriendelike bome

verlang bome na mense

ek mis die pad huistoe
ek verlang na normaliteit
na uile op my dak
verlang verlang

na standerd 3
na die skoolbus
na my groot sterk man

(c) 2002

Hello liefste Gert Vlok Nel

My eks het gedroom van jou Beaufort-Wes
en van ons nagte saam
hy kon nie meer slaap nie

Nou kan ek ook nie meer slaap nie
ook nie weer vir hom soen nie
Hoe kan ek ooit weer lag
nadat ek gese het hy moet gelukkiger lyk

Hy was verskriklik lief vir my
Ek was nie tevrede met geluk nie
eindelose nagte was vir my te lank
Ek wou net n artist wees
en uitgelos word

Hy het nog laaste my kar reg gemaak
(dis eintlik sy kar)
hy kon alles vir my reg gemaak het
Hy wou ook vir my help soek na my kind
ek wou net alleen wees
dit was my laaste woorde aan hom
ek moes eintlik gesien het hoe die rivier van hartseer hom stadig weg voer

Elke aand kon ek my kinders nie antwoord nie
as hulle vra wanneer gaan ons weer by pappa bly

Almal was lief vir hom
as alles slowmotion kon gebeur het
sou ek dalk beter kon verstaan het

Die plaas is ver van Beaufort-Wes
daar is bome en gras
maar ek dink dit was nie meer groen nie
veral nie vir hom nie

die rooi stofstorms was nooit vir hom so wonderlik soos vir my nie
seker omdat hy dit nie deur my studio venster kon sien nie
maar ek was vir hom mooi

Ek het te veel fairytales gedroom
saam met hom was dit so gewoon

hy het altyd vir my hartjie klippe van die delwery af gebring
ek het dit in ´n blik gebêre

nou kan ons ook nie meer iets vir mekaar doen nie
hy lê langs sy ma begrawe
ek het n wit hartjie ruiker op die rooi grond gebere en jou woorde vir hom gespeel

ek is nogsteeds alleen met ´n groen swembad in die middel van Tomstraat

Dalk is die koue van die kaapse branders makliker as jou mooiste woorde

(c) 2002

ongetiteld 2

ek verlang na my man
dit is alweer Februarie

nog n graf
skuins oorkant Anneke
Tina sit soms nog daar nadat sy die bossie blomme in 3 gedeel het

daar was baie kans vir my om terug te gaan
daar was ook tyd
maar ek was te trots
en te kwaad

nie eers die bome kan my troos nie
nie sonneblomme kan my laat smile nie
want sonder hom is daar niks

(c) 2003

Gedig

My ma is so mooi
haar glimlag is n lig wat skyn
haar woorde glinsterende goud
haar warmte ontvou die hele atmosfeer
haar panorama so silwerskoon
dit vou om my wereld
Die intellek van haar denke
is reendruppels uit koningsblou wolke
haar hart is vir ons soos satyn

my ma is so mooi
haar hare swart soos roet uit my steenkool pen
haar vel sag en wit soos jasmyn in die somerblom
haar lippe praat haar woorde in diamant en perel halsnoer van die mooiste rose

my ma se hande hou ons nog steeds liggies vas elke dag

(ongetiteld)

Ons sit om Anneke se graf.
Die wind is augustus-maand-koud en die son warm.
Pet speel met die plastiek aarbeie-pot waarmee hy altyd speel as ons hier sit.
My keel pyn van die sluk sluk aan trane en hartseer en van die ent se water aandra in die son.
Tina sit soos altyd en vryf sag oor die woorde van-in-die-tuin, terwyl die trane oor haar wange stroom.

En nou sit ons in Potch.
Dit is middel Februarie.
Die begin na nerens.
Hier is niks.. niks. niks!
Die grond hier is as-vaal.
Blou stof.
Die modder na die reen is so vuil grys kleur.
Dit is al wat blou is hier.
Tot die hemel is grys.
Die akkerbome is groen, maar dit stink!
Potch stink.

Ek verlang na my terracotta sandstorms.
Die vrugbare rooi grond om my,
onder my;
die groen tot waar jy kan sien.
Die wind wat skoon is
wat die geur van sonneblom en dou in die oggende inwaai by my stukkende venster. My reuse vriendelike bome,
Verlang bome na mense?

Ek mis die pad wat na my huis toe lei.
Ek verlang na normaliteit.
Na uile op my dak,
Verlang, verlang verlang

Ek verlang na standerd 3
Na aardrykskunde en geskiedenis
Na skooltoebroodjies

Twaalf Roosblare

die slot van die sesde jaar is toegesluit
die heks het die sleutel weggegooi

Twaalf roosblare langs jou trane wat drup.
´n ander verhaal
nog ´n hoofstuk in dieselfde boek
net twaalf bladsye

roosblaar-trane oor die mooiste blom
seemeeue soek haar ook.
Betekenlose drome onvergeetlik
uitgegrafeer in jou siel
die leegheid langs jou

as ons eendag groot is…
as ons altwee eendag dood is.

Die angs van n familie verskeurd.
´n atoombom in jou hart ontplof.

die heks skryf die boek
sy het die storie weggesteek
oor die ma en die pa
wie is nou eintlik stief
die raaisel
net een antwoord

die heks is stom
sy hou van swem in trane
veral golwe
sy hou nie van prinse nie

Liefste Gert Vlok Nel

Liefste Gert Vlok Nel
my vriendin hou van Tafelberg
en jou woorde.
Jou stem en Meiringspoort
inspireer haar.
Sy’s lief vir Afrika en haarself.

maar sy hou nie van geheime nie

en nou bly ek in Potch
my swembad voel in die middel van Tomstraat
my studio het nie vensters nie
my lug is nie blou nie

die rooi sandstorms waai seker nog iewers

die akkerbome stink
veral as dit reën

Sy gaan met ´n kameel deur afrika reis
sy en wie ook al

sing my terug na my hemelblou lug

maak my tower formules dans
soos Van Morrison
in die oggend
buite my studio in die son
terwyl die wolke spierwit en vet rock and roll

© Inkara Maria



1 Opinie:

Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Gedigte
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Gedigte
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Gedigte
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Gedigte
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Gedigte
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

Janet
2019-01-18 17:21:05
wat beteken kleingeestig...
H L Wehr
2019-01-17 22:25:02
Definisie en betekenis die verskil...
Robert
2019-01-10 18:20:15
Kan Annarine Erasmus my groot asb kontak deur my te epos na robert.conradie91@gmail.com Dis in verb...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD