Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
ons portret
ons portret glans weer blinknuut
jou geur kom weer by die voordeur
by die agterste oop venster
weer met die wasgoed die huis binne
jou liefde rank steeds blomvars
teen die stoep-prieel; teen my hart
se senupunte vas
my gees is gekenter deur tyd
maar steeds brand daardie vuur
jou stam bot steeds takke uit
tot teenaan my gebeente
die dof van jou oë glim glimmend in ‘n traandruppel op die stoep
Hier
hier onder die jongmensboom
kom vat die jare aan my,
aan my kierie se eelte;
kom lê die lanfer teen my hart
en aan die eelte in my gemoed;
soek ek die winterson
se stram strale
teen my heethoof
as die onweer toesak op
die vallei diep binne in my
waar krake van gister
se seerkry duidelik spoor,
is daar geen
mansmens meer wat morrend,
onbeantwoord
oor dit en dat wil kla
ook geen haastig-wuif meer,
geen lastigheid
van Griet hier dig langsaan
hul dood het so onverhoeds, so plettervat
die opregte gasvryheid
tot eensaamheid vermaer

