Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Glas-hart
Waar is jy nou?
Die wankelrige vloerplank,
Die geraas van die water wat onder spoel,
En ek staar af by die afgrond.
Die donker en die water roep my,
Die pyn van verlies en die gebroke drome wat eens was. En ek moet my skuld dra al kan my skouers dit nie meer hou nie.
My nerwe is deurgeskuur tot op die senuwee en elke trap en elke steek is rou. Dit sny deur my vleis en kerf groewe en woorde in my gebeendere.
Ek verstaar my aan die letsels, almal wat ek oor die jare bymekaargemaak het. Al die seer wat weer geheel het maar nooit sal verdwyn nie.
Soos ’n swartsak waai ek op ‘n koue dag in Augustus, meningloos en moedeloos, rigtingloos en waardeloos. Ek dwarrel rond, maar daar is geen plek vir my nie, daar is geen veiligheid nie, geen hawe nie, geen plek waar ek hoort nie.
Jou nikswerd, jou selfsugtige stuk ding wat jy weggooi soos ‘n verrotte stuk vleis, om verteer te word deur die roofdiere en organismes wat my weer tot stof sal maak. En daar sal ek verdwyn, soos ek reeds in jou oë verdwyn het.
Ek het alles gegee wat ek het om te gee, ek het alles gedoen wat ek kon. Nou sit ek met die skerwe van my glas-hart in my hande. Ek druk die skerwe tot die bloed by my arms afloop.
Ek skree so hard ek kan , maar niemand wil my hoor nie. Ek staan in ‘n propvol kamer en ek is deursigtig, vir almal, veral vir jou.
Dit steek deur my soos ‘n honderd dolke, en ek is alleen. Ek is naar van die pyn en ek stap die donker straat alleen, alleen.
Die skerwe van my glas-hart weerkaats skarlaken-rooi in die straatlig en ek tel te vergeefs die stukkies op, ek probeer te vergeefs dit weer aanmekaar las. En jy stap verby en kyk die ander rigting in.
Die merke van die verlede is steeds op my polse gegraveer en dit versier soos ‘n kunstenaar ‘n verfdoek. Elke dag ‘n byvoeging tot my bestaande meesterstuk.
Ek is alleen, altyd alleen. Ek vertrou en verbrand, ek hoop en ek word teleurgestel.
Ek gee my oor aan sigarette, drank en seks, maar niks kan die gat in my siel stop nie. Niks kan gat wat jy oopgeruk het vul nie. Ek is gedaan.
Ek is fucked-up en ek weet dit. En ek weet dit al vir jare. Die gat in my siel verwoes en verwyt, verteer en verswelg alles wat goed is, alles wat rein is, alles wat jy is.
Die trane dans oor my wange, maar jy sal dit nooit sien nie, nooit my geskree hoor nie, nooit die letsels op my sien nie. Ek hou dit vir myself. Dis myne.
Rooikop Hatfield girl
Ek het vergeet wie jy is,
wie jy was,
en waarom jy my hart uit my bors laat klop het.
Waarom ek elke skynbaar ewigdurende oomblik verduur het,
tot jy weer by my is.
Op sigself ‘n boek met bladsye geskeur, uitgeruk, opgefrommel.
Hergebruikte weggooi-papier om die logika van die lewe te verstaan.
Eindelose aande sit ons deur, ‘n ewigheid, maar in ‘n oogwink verby,
tot ek weer by jou is.
En tussen die deurmekaarspul vind ek en vind jy, ons.
Ek wou jou heelmaak al was ek self nie heel nie.
Ek wou jou beskerm teen alles wat jou laat ruk in die nag,
alles wat jou wou, wou inhaal van voorheen.
Een kyk het ek geweet van die seer, stukkend, verraai en verwerp.
Van die rou wonde wat jy krap net om te weet jy kan nog voel.
Woorde was onnodig,
ek het geweet wat jy bedoel.
En jy verdien dit nie.
Jy, van álle mense.
Jy pronk, soos die verleidelikste meisie,
met jou rooi hare, perfekte gesig en bloedrooi lipstiek.
Loop met selfvertroue en jy besit alles.
Hatfield is in slow motion en almal stop en kyk nét na jou.
En jy kan nie minder ‘n fok voel oor wat hulle dink nie.
Jy stal jou lyf uit soos ‘n winkelvensterpop … maar dis waar dit eindig.
Kyk maar, maar dis waar dit stop.
Jy dans asof jy jouself verloor.
Dis net jy en niemand maak saak nie.
En ek bewonder die beeldskone vertoning,
almal in die beknopte Chili’s verdwyn. En ek is betower.
Hals oor kop.
Dis net jy onder die ligte, klank en rookwalms en alles in jou skree kliphard,
‘n moedelose kreet wat jy nie kan verwoord nie.
Tog verstaan ek jou lyf se taal. Ek bewonder jou.
My gesig het lankal nie meer gevoel nie,
ek praat meer kak as wat nodig is,
ek rook soos ‘n skoorsteen, dans op tafels,
praat met vreemdelinge soos ou vriende.
En ek val vir jou.
Elke dag,
meer en meer.
Laat aande en vroeë oggende,
want tyd is net ‘n konsep.
MacDonalds want alles anders is toe,
180 op die snelweg met jou Corsa,
Fokofpolisiekar speel oorverdowend.
Die lirieke ongemaklik-naby aan ons albei se waarheid,
en ons jaag na nêrens.
Maar ons jaag saam.
Skree jou longe uit en probeer van die pyn ontslae raak
jy leer my om te lewe.
Om te voel, om te vertrou,
om te laat gaan.
Die beste aand-oggende van my lewe, want ek was saam met jou.
Jy definieer “amazing”.
En elke kyk in jou oë laat my hart sink,
want wat maak my anders as almal?
Wat maak my so special dat ek jou kan kry?
Jy het my geleer wat hart-seer is,
nie geweet ek kan iemand so mis dat dit seermaak nie.
En dan sien ek jou weer,
ek is weerloos.
Mal beskryf nie hoe ek oor jou voel nie,
Eensaam beskryf nie jou afwesigheid nie.
Meer die afwesigheid van atmosfeer.
Ek versmoor sonder jou.
Ek het jare al versmoor, en dit nooit eers geweet nie.
Ek’t my probleme probeer versuip, maar kon dit nie vergeet nie.
Ek’t gesoek na liefde, en dit nie gekry nie.
Ek sou nie kon nie, wat dit was nie jy nie.
Jy sal vir altyd my rooikop Hatfield girl bly,
wat dans tot die son opkom.
Die onbeskryflik mooiste meisie,
is myne, en fok alleen weet hoekom …
My hart klop vir jou.