Stuur jou gedigte na bydraes [by] roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Bosveldgeheime van ‘n dromer
Met die groenvlerkduif se aankondiging van die hitte
het my hart by God gaan stilstaan
omring deur die perfeksie van Sy suiwer droom vir ons
word die sonde en haat van ‘n bloedbevlekte siel
skoongewas deur rivierstrome wat volkome vrede bring
Langs al die grondpaaie van eensaamheid dor
staan die geraamtes van bome wat bloei
oor ‘n leeftyd vol van liefde deel
en hoop wat saam met die swartwitpens
soos mis voor die son tussen die ruigte bome verdwyn
En na ‘n skemer vol van onbekende vrees
en na die donkerste nag met die geluide wat eensaam roep
breek die sonsopkoms deur met strale vol nuwe hoop
soos die visarend wat sweef bo kranse van dood
soos die skadu’s wat beskut teen die helder middagson
Aan die einde van die pad, net soos ‘n sterk olifantbul
vol van die lewe se letsels wat mettertyd vrede bring
wil ek, alleen, my neerlê lans die strome van vergifnis
onder ‘n boom wat sy wortels om U skeppingswerke vou
en my laaste avontuur saam my Skepper en sy skeppingswerk vier
Stuur jou gedigte na bydraes [by] roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.