Die goeie dokter

Dit was al laataand toe Jors se hand die noodlottige besering opdoen.


Maar die tipe ding gebeur mos maar in ’n kroeg. In die kroegtoilet om presies te wees. Meer akkuraat, tussen die toiletdeur en die muur. Nie dat so ’n knyp sommer behandeling nodig het nie. Laat val egter jou 112 kg vriend teen die deur op dieselfde oomblik as wat jou hand hom tussen die deur en die muur bevind, dan voel jy dit, maak nie saak hoeveel ‘pynstiller’ jy al in het nie.

Gelukkig is dit ’n klein dorpie en soos in alle klein dorpies is die afstand tussen enige twee punte nooit te vêr nie – so dan ook vir die dokter en die kroeg.

Die dokter vind ’n bekommerde Jors op die vloer met ’n hand vol vingers wat in alle windrigtings wys. Jors is nie soseer gepla oor hoe hy gaan werk nie, maar die einde van die maand is dit die kroeg se groot darts-kompetisie. Jors hoop om vanjaar ten minste een game te wen.

“Dokker!” Raai Jors, wat intussen ekstra pynstillers in het en korrel met sy neus waar hy probeer kyk. “Ish jy ’n goeie dokker? Kan jy my hand fix?”
“Moenie bekommerd wees nie Jors.” Antwoord die dokter gerusstellend. “Jou hand sal een van die dae so goed soos nuut wees.”
“Jy sheker dokker? Ash die hand gesond is, sal hy die klavier kan speel?”
“Ja, Jors. Jy behoort sonder enige probleme klavier te speel.”

“Hel!” Reageer Jors beïndruk. “Jy ish ’n blerrie goeie dokker, want ek kon nog nooit klavier speel nie!”

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar