Die uitgeslape dokter

Koos is mos wat hulle noem ‘agterstevoor suinig’. Hy wil geld spaar op al wat ’n ding is, maar as dit kom by drank, dan gaan die geld vinniger by die agterdeur uit as wat dit by die voordeur inkom.

So ontwikkel Koos ’n seer keel en die eerste ding wat sy gemoed laat swig is die gedagte aan wat ’n besoek aan die dokter hom uit die sak gaan jaag.

Koos het egter ’n sak vol planne. Dit het hom twee dae gekos rondloop in die parkeerarea buite die dokter se spreekkamer, maar uiteindelik het hy en die dokter mekaar ‘toevallig’ raakgeloop.

“So hoe staan sake deesdae dokter?”
“Nee, ek kan nie kla nie Koos.”
“Dokter het nie dalk ’n ‘special’ vandag op verkoue of ’n seer keel nie.” Spot Koos kamtig.
“Ja, ja, natuurlik.”
“So wat sal dokter gewoonlik gee vir ’n seer keel?”
“O, niks nie! Ek wil glad nie ’n seer keel hê nie!”

Lewer kommentaar

Leave a Reply