Gatiep werk as ’n portier op die Blou Trein. In sy tyd op die trein het hy al baie vreemde versoeke gekry, so dit was vir hom niks snaaks nie toe ’n groot blok van ’n man hom R200 aanbied om te sorg dat hy wakker is en van die trein af wanneer hulle in De Aar aandoen.
“Dis nie maklik om my wakker te maak nie” benadruk die man. “Ek kan my lekker teësit, dis hoekom ek jou R200 betaal. Sorg dat ek van die trein afklim in De Aar!”
Die trein was al anderkant die Vrystaat toe die bulderende vent op Gatiep afstorm. “Waarvoor het ek jou betaal! Hoekom is ek nie nou in De Aar nie!” begin die man en was arme Gatiep se kop deeglik.
Toe die man uiteindelik moet stilbly om asem te skep let hy vir die eerste keer op hoe verrinneweer die arme Gatiep se gesig is. Mondhoeke geskeur, sny in die ken, op die voorkop en op een wang. Gatiep se enigste oop oog staar nadenkend voor hom uit. “En wat op dees aarde het met jou gebeur? Wat staar jy so?” vra die man nou nuuskierig.
“Ag, meneer. Ek wonder nou net so, wie sou daai meneer wees wat ek by De Aar van die trein af ge-fight het.”
