TOKAI – Die Norval Foundation het besluit dis tyd dat die diere weer losgelaat word – dié keer met skerp tonge, blink brons en ’n politieke gewete. Brett Murray: Wild Life, ’n omvangryke solo-uitstalling deur een van Suid-Afrika se bekendste (en soms berugte) kunstenaars, is nou oop en loop tot 22 November 2026. Onder kuratorskap van Karel Nel bring die uitstalling meer as 80 beeldhouwerke bymekaar wat oor vier dekades strek.
Murray, lank reeds bekend vir sy bytende humor en vreeslose sosiale kommentaar, gebruik in Wild Life die diereryk as ’n spieël vir ons eie manewales. Ape, olifante, bulle, varke en ’n paar denkbeeldige kreature kyk jou reguit aan en vra, sonder woorde: “Is julle mense regtig só?”
Agter die gepoleerde brons en marmer skuil skerp waarnemings van die moderne lewe – gelyktydig komies, tragies en ontstellend herkenbaar. Die diere lyk dalk speels, maar hul houdings verraai groter vrae oor mag, trots, vrees, absurditeit en – verrassend genoeg – teerheid.
Die titel Wild Life knipoog nie net na die diereryk nie, maar ook na die dokumentering van Suid-Afrika se politieke protagoniste.
Hoewel Murray waarskynlik bekend is vir sy uitlokkende politieke werke, fokus Wild Life spesifiek op sy beeldhoukuns. Die uitstalling bied ’n meer persoonlike, genuanseerde blik op sy ontwikkeling – van die fel, polities gelaaide werke van die 1980’s tot die meer introspektiewe en intieme beelde van onlangse jare.
Met inspirasie wat wissel van Walt Disney-animasies en Oos-Asiatiese viniel speelgoed tot Brâncuși se gladde vorms en Wes-Afrikaanse Baule-figure, balanseer Murray satire met skoonheid en ironie met insig. Dis kuns wat jou laat lag – en dan ongemaklik laat dink hoekom.

