Die 18de eeu het nie net pruike en pofferige rokke opgelewer nie, maar ook ’n volskaalse seksuele rewolusie vir dié met geld, mag en min selfbeheersing.
Soos die ysterhand van kerk en staat begin verslap het, het die sluise oopgegaan vir vrye losbandigheid – en Rococo-kuns was die Netflix van die dag: eroties, oordadig en wyd verbruik.
Oral was daar seksueel gelaaide skilderye en wellustige literatuur – van goedkoop afdrukke en kras etswerk tot olie op doek wat jou wange rooi laat. (Aldus die HAT was daar net ronde lyne en krulversierings.)

’n Dun lagie sogenaamde “onskuldige liefde” het ’n goed-georganiseerde obsessie met vleeslike vermaak probeer verbloem. Wat voorheen diskreet agter slaapkamerdeure gebly het, is nou vrylik verbeel, beskryf en uitgebeeld deur die groot kunstenaars van die era.
Seksuele vryheid was natuurlik niks nuuts nie, maar die elite het nou die middele gehad om dit ten volle te ontgin. Voorheen was begeerte darem nog ietwat in toom gehou deur godsdiens, sosiale plig en die baie werklike gevare van siektes en swangerskap. Met die Verligting is geloof en tradisie egter hoflik opsy geskuif. Die nuwe libertynse wêreld het om politieke en finansiële mag gedraai – en ’n opvallende blindheid vir onbedoelde swangerskappe en die lot van sogenaamd “gebruikte” vroue.
Die jong, ryk elite het Europa deurkruis. Party het kuns, argitektuur en filosofie bewonder; baie meer het hul tyd bestee aan skandelike plesiertjies vêr van die huis af. Dit was die tyd van berugte libertyne soos die Markies de Sade en Napoleon se berugte plesier-soekende broer, Joseph Bonaparte – geleerd, invloedryk en merkwaardig onbeswaard deur moraliteit of seksuele selfbeheersing.

Rococo-kuns het in dié klimaat geblom as ’n viering van die natuur se glorie, losweg geïnspireer deur Romeinse Renaissance-ikonografie. Literatuur, drama en beeldende kuns was oorstroom met stories van onbeteuelde wellus en avontuur – ’n laat-18de-eeuse totale aanslag op die sintuie.
Die Franse het heerlik in hierdie artistieke seksuele sop gebad: openbare werke netjies vermom as klassieke tonele en privaat versamelings wat openlik voyeuristies was.
Maar toe, skielik en bloederig, het alles tot stilstand gekom met die bestorming van die Bastille. Die beskermhere van die kunste was skielik letterlik koploos – en saam met hulle het die kunstenaars se rigting en beskerming verdwyn.
Ons dink graag terug aan hierdie opwindende era van kuns … en die dae toe ons nog die bourgeoisie met ’n guillotine kon skrikmaak.

Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
