Bondgenoot: Die Koos du Plessis-storie

Bondgenoot: Die Koos du Plessis-storie 

Roekeloos

Gesoute akteur, TV–aanbieder en kabaretkunstenaar Jacques H. Botes lewer ‘n unieke vertolking van Koos Doep se musiek, verhale en gedigte.

Botes word deur resensente geloof vir die eerlikheid waarmee hy Koos se werke vertolk; daar is selfs al genoem dat gehore Koos amper self op die verhoog ervaar, en dat Bondgenoot eenvoudig die opregste en mees onopgesmukte weergawe van Koos se werk ooit is.

Bondgenoot 2010 (Die Koos du Plessis–storie) is ‘n briljante produksie gebore uit deeglike en in-diepte navorsing oor Koos du Plessis se werk en lewe. Goeie vriende van Koos, oud–kollegas, akademici en meningsvormers het hul harte oopgemaak en hul kennis rakende Koos du Plessis met Jacques gedeel, sodat selfs die humoristiese Koos ontmasker word. Hierdie verhoogprodusie laat as’t ware Koos as swerwer, kultusfiguur en legende deur sy werke voortleef. Hy inspireer ons.

Volgens Jacques Botes het Koos Doep hom op ‘n lang reis geneem; daar was selfs ontdekkings wat nimmer vergeet mag word nie. Die groot ontdekking was eenvoudig, dog kompleks: vir elkeen van ons is Koos ‘n Bondgenoot.

Sou Botes in hierdie verhoogstuk wel die antwoord op sommige van Koos se vrae ontsluit? Dalk op reis van perron na perron? Of dalk in ‘n tent wat êrens tussen sterre staan?

Bondgenoot 2010: Die Koos du Plessis-storie vertel die verhaal van liefde, eensaamheid en die soeke na sin in ons bestaan, deur Koos se werk. Botes se deeglike navorsing sorg ook dat die vertoning gekleur word deur verhale van Koos wat nog nooit vertel is nie. chrisman baard, ‘n hedendaagse digter-met-kitaar, sluit by Botes aan om temas soos die liefde en alleenheid te verwoord. Opkomende sangeres Sané Lötter (wie se eerste CD binne enkele maande beskikbaar sal wees) verskaf die agtergrond-harmonieë.

Hierdie uitstekende weergawe van die Koos du Plessis-storie is verseker ‘n moet vir die fynproewer van Afrikaanse musiek, en is beslis ook vir elkeen wat weggevoer wil word, saam met Koos, op die reis van ons bestaan.

Koos du Plessis
Koos du Plessis

Ondanks die redelike kort tydperk wat Koos du Plessis op die Afrikaanse musiektoneel was, beklee hy ‘n prominente plek in ons musiekgeskiedenis, en in die harte van vele. Koos Doep het reeds in sy leeftyd ‘n legende van die Suid-Afrikaanse musiek geword. Hy was by uitstek ‘n woordkunstenaar, maar ook koerantman, komponis, filosoof, liriekskrywer en kultusfiguur, wat die krag van emosie in sy lirieke kon bemeester. Koos Doep het eens gesê: “My liedjies, hulle praat namens my. Wat ek wil sê, sê ek daar. Trek hulle uitmekaar, en skryf oor hulle. Wat my betref, net dit: Ek is ‘n doodgewone ou”.Koos is op 10 Mei 1945 gebore, en in die nag van 15 Januarie 1984 verloor ons hierdie lewende legende in ‘n fatale motorongeluk.

“Ek groet sonder woorde, want hartseer is stom” – Koos du Plessis

“BONDGENOOT. Die Koos du Plessis-storie” – 24 April 2010, 20:00 – 21:00

Mardi Gras Teater (Carnival City Casino, Oosrand)

‘n Musikale verhoogproduksie deur Jacques H. Botes
– met chrisman baard en Sané Lötter

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

 

Lewer kommentaar

Leave a Reply