deur Isabella Caramella
Sedert die insident met die verlepte roos en die kolwyntjiekoekie op Sekretaressedag, is ek passief-aggressief dikbek tussen 8 vm en 5 nm, Maandag tot Vrydag.
Dis nou nie asof ek my baas se tienuurtee met ’n seringboomtakkie roer nie, maar ek weet hy weet dat die Ebola van alle virusse wat die helfte van sy databasis geïnfekteer het nie sonder hulp verby Mr McAfee geglip het nie. Toe ek dus die uitnodiging met “jy is ’n superster” as inleidende paragraaf, gevolg deur “kom geniet ’n aand van Rough Diamonds & Divas by die Barnyard Teater… ” op my sleutelbord aantref, het ek nie geweet of ek dadelik moet uitbars in trane en of ek moet wag tot vanaand (met een “n”) in my bed nie. Die gedagte om saam met 349 ander onvergenoegde, onderbetaalde, oud en/of oorgewig sekretaresses die “tam, tam, tam”-gedeelte van “Sweet Caroline” te sing, was vir my meer skrikwekkend as om saam met ’n duisend dwerge in ’n hysbak vasgevang te wees op Oujaarsaand wanneer Otis se tegnici soos die res van ons iewers dronk lê.
Daar aangekom kry ons elkeen ’n verrassingspakkie met ’n pienk pen (yay!), ‘n blou kopband met ’n veer in die styl van Indiaan Geronimo, ’n botteltjie olie vir rekmerke en ouderdomsvlekke en ‘n glas sap. Sap, ja! Ek wou nog vra: “No sex toys included?” toe ek die magtige dreuning van wildebeest wat besig is om oor die Serengeti in die rigting van die kostafels te migreer agter my hoor. Ten spyte van my afkeer van vraatsigheid het ek met bewondering na die dames se ingenieursvernuf gestaar. As die geleerde manne wat so sukkel om die hoë geboue wat elke winter dreig om Tafelbaai-hawe plat te val maar net daar was om te sien hoe mens ‘n wolkekrabber van mini-hamburgertjies, mini-worsbroodjies, mini-pitabroodjies en mini-samoesas op ’n servet as onstabiele substruktuur oprig, was Stad Kaapstad se kommer oor ’n dreigende ramp iets van die verlede.
Na die derde glas grenadellanektar was dit tyd om die vermaak vir die aand agter die gordyne uit te lok deur met gloeistokkies op die tafels te slaan.
“Bennie Boekwurm!”
“Harder maatjies, Bennie kan julle nie hoor nie.”
“BE-NIEEEEE BOEEEEK-WU-RUM!”

Die kabaal wat ons opgeskop het, het die gewenste effek gehad (net soos met Wielie Walie) want die volgende oomblik word Dolly en die res van ons gegroet deur Louis Armstong (Percy Smith), gevolg deur Edith Piaf (Petro Liebenberg) met ‘n stem wat jou laat verlang na ‘n stad wat jy nog nooit eers besoek het nie. Sy kan haar “rrrrrr’s” rol! Die res van die vertoning, uitstekend saamgestel deur Duck Chowles met Adrian Poulsen as regisseur, bring hulde aan nóg “gravelly voiced superstars”. Hoogtepunte sluit in “We’ve got tonight” van Bob Seger en verskeie Neil Diamond liedjies uitstekend vertolk deur Johan Liebenberg; “Unchain my heart / Leave your hat on” van Joe Cocker gesing deur Lee Paver in sy onderbroek met ‘n glinsterende rooi hart op die voorkant geborduur; Leonard Cohen se “Hallelujah” wat die dames hul gloeistokkies op maat van die musiek bokant hul koppe laat wuif het. Candice Skylark as Tina Turner is opsigself genoeg rede om die vertoning by te woon, al is dit net om te sien presies hoe ‘n mens te werk moet gaan om al vier verdiepings van daardie toiing-rokke gelyk te laat vibreer. Ek gaan dit my nuwejaarsvoorneme maak om díe vaardigheid aan te leer.
Jason Guile se kitaarspel het my getoor en as ek die UK Lottery wen koop ek vir my ‘n kitaarboom soos syne. Op die linkerkant van die verhoog het daar ’n boom gegroei wat kitare van elke vorm en kleur dra. Met elke nuwe liedjie het hy vir hom ‘n ander een gepluk en vreemd wonderbaarlike klanke daaruit voortgebring. Was dit nie vir my irrasionele koperfetish wat my heel aand na Joseph Shumane se seksofoon saksofoon en koperklarinet laat staar het nie, het ek vir Jason gestem.
Die hoogtepunt van die aand, alles in ag geneem, was natuurlik die geleentheid om in die manstoilet te gaan piepie!
(Oorspronklik verskyn 27 September 2011)