Op 70 jarige ouderdom sit meeste mense rustig agteroor en geniet hul aftrede.  Nie Douw Venter nie! Op 70 het Douw besluit dit is nou tyd om sy droom uit te leef en toe sy mense hul oë uitvee, het Douw ‘n liedjie opgeneem.

In die laerskool op Brits het hy klavierlesse geneem maar sommer vroeg besef dat kitaar eerder sy instrument is. Hy het egter eers op 15 sy eerste kitaar gekry.  Douw vertel “Daardie jare was daar nog nie rekenaars waar inligting ‘gegoogle’ kon word nie.  Die gevolg was dat ek op gehoor ‘n paar eenvoudige akkoorde aangeleer het.”  Op hierdie paar akkoorde is Douw se liedjies gebore.

Vir die grootste gedeelte van sy lewe, was Douw egter in die konstruksie bedryf en net per geleentheid om die braaivleis vure, het hy sy familie en vriende met sy musiek vermaak. Toe hy 50 raak, het hy vir homself ‘n  tuis ateljee ingerig en sy liedjies begin opneem. Hier tussen die vier mure het hy ’n glimps van sy droom gesien.

20 jaar later, op 70, pak hy met groot opgewondenheid sy eerste vrystelling met die enkelsnit “Potholes” aan.

Douw vertel “Ons almal weet in watter toestand ons paaie is en om nie eers te praat van Eskom nie. Die paaie is net slaggate en hobbels. Uit pure frustrasie het ek eendag voor die rekenaar die naam “Potholes” opgesoek. Dit was dan en daar waar die pot se deksel gelig het. Die woorde en melodie het so gelykertyd deur my gespoel, en ek moes tik vir die vale.” Met sy tong in die kies lirieke en pakkende melodie is hierdie verseker ń saam-sing liedjie vir die hele familie.

Potholes – Douw Venter

Douw is ’n bewys dat dit nooit te laat is om jou droom te bewaarheid nie.   ’n Droom wat jy koester en bewerk kan wel realiteit word.  Hy wil graag mense, jonk en oud aan moedig en inspirer om vas te hou aan hul drome en net nooit moed op te gee nie. Douw en sy vrou woon tans op ’n plaas in die Noord – Wes Provinsie. “Om te dink ek beleef my droom op 70!  Ek is so dankbaar.”

Potholes - Douw Venter
Potholes – Douw Venter

Lewer kommentaar

Leave a Reply