Christian John se nuwe enkelsnit, “Fight Fire with a Flame” strek veel verder as bloot net ‘n liedjie. Dié vuurwerk beloof om die grafieke skerp boontoe te laat piek met ‘n kragtige, rou boodskap van waarheid, hoop en genesing. Dit is eerlik, boeiend en tref veelvlakkig in wegsteekplekke wat gehore tot swye, introspeksie en herbesinning dwing.
Stiaan Reynierse skroom nie om sy nuutgevonde tuiskoms (sonder huiwering) in rooi en breë hoofletters in ‘n nuwe naam te verf nie. Voortaan sal hy as Christian John die gehore uit die stoele lig en oudergewoonte sal die rasper in sy keel steeds die armhare laat regop wip met hoendervleis-oomblikke.
Sy nuwe Engelse enkelsnit, “Fight Fire with a Flame” is gebore uit ‘n reeks ingrypende omwentelinge en ontberings in sy lewensreis en skets onder meer konfrontasies met flitse uit die verlede. Die storielyn ontknoop vol verrassende wendings en bevat elemente van emosionele gevangenskap, vrees, wanhoop, vals troos, leuens en die vrymakende krag van die waarheid. Die liedjie is geskryf deur Christian John Reynierse en Byron Kuntz en die verwerking behartig deur Johan Rautenbach. Die vertolking daarvan is aangrypend, eerlik en diepsnydend – ‘n universele boodskap wat eindig in ‘n gespierde viering van oorwinning, hoop, deursetting en geloof.
“Ons besef nie hoe vinnig en maklik die sand werklik deur die uurglas of ons vingers val nie … Ek moes lewensveranderende besluite neem; realiteit, myself en my innerlike krag herontdek en die ware betekenis van deursetting en vergifnis leer ken voordat ek my naam uiteindelik reg om en voluit kon spel. Lees maar tussen die lyne …”
Christian John is nie ‘n verhoognaam nie. Dit is die name op die sanger se geboortesertifikaat. “Almal ken my as Stiaan Reynierse – die naam met die versigtige rooi vlaggies agteraan. Tóg, as dit nie vir die rooi vlaggies was nie, sou ek nooit my foute, vrese of vryheid kon verstaan, verken of verander nie. ‘Christian John’ is ‘n soort metafoor waarmee ek verandering probeer verduidelik sonder om van ‘Stiaan’ te vergeet. Die gesig is dieselfde, maar die kyk in die oë lyk effens anders… ”, vertel die sanger vanuit ‘n plek wat enige denker in die diepkant van ‘n kop laat sink. “Ek het nie skielik ‘n ‘softie’ geword of ‘n persoonlikheidsverandering ondergaan omdat ek onder ‘n nuwe naam sing nie. Fight Fire with a Flame is beslis ‘n Christian John-ding. Eg, soos my regte naam. Ek’t oorlog verklaar teen die goed wat my vrede verslind. Dis die vuurstorms wat jou verniel…”
Die nuwe enkelsnit, “Fight Fire with a Flame”, reflekteer nie slegs die sanger se vurige geaardheid nie, maar dra ook eienskappe van deursetting en dapperheid. Juis daarom is die titel uiters gepas. “Geen water kan die vure aan die binnekant blus nie. As water nie werk nie, moet jy terugveg met vuur. Ek het lank genoeg daarmee gespeel om te weet dat net vúúr, vuur kan blus. Daar’s nie ‘n ompad deur die vlamme nie. Jy sal nooit vuurvas aan die anderkant uitkom as jy wegskram van die waarheid nie.”
Stiaan was letterlik op die dood se rant en die kans dat hy sy kinders sou sien grootword was skraal. Die kyk in Christian John se oë is beslis anders as voorheen. “My kwota was opgebruik. My kaarte was klaar… I was saved by the bell …”
“Fight Fire with a Flame” is een van daardie liedjies waarvan die spiere bult sonder om ‘n vuis te bal. ‘n Skokgolf waarna aanhangers met ingehoue asems en groot opgewondenheid kan uitsien!

