Indeks van digters Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Wiegstoel op die stoep

In ‘n kliphuis wat staan al van die oorlog af,
woon ‘n ou grysaard met lang wit hare
en digte bos baard, wat getuig van sy jare,
g’n niemand weet wie hy is,
maar almal sê ‘n lang swart kis
staan buite teen sy muur
en niemand sien hom ooit bedags,
behalwe wanneer dit volmaan is, snags,
en al hoe jy weet dat daar iemand woon,
is die geblaf van ‘n hond
en dié is ook al stokoud,
maar heeldag sien jy hom waghou,
langs die wiegstoel op die stoep,
maar met volmaan is die hond weg,
dan vee die ouman sy stoep
en skuif sy wiegstoel reg.

Daar was mense wat al wou nader gaan,
maar hulle word van sweet waternat uitgeslaan,
dis glo oor die wit hond so mooi,
wat sekerlik van nader anders lyk
en na jou gluur
met rooi oë vol vuur!

Winter

Bleek oë en skerpe tong,
jou agtervolger,
jy glip by elke skrefie in
en laat my bewe,
ja, my tande klap,
jou asem roer deur my hare
en pluk aan my jaspunt
in jou vaalte
en elk verskroeide somersblom,
jy kom af teen die Maluti’s daar gunter,
jy, jy is Winter.

Droogte

Ou afkopwindpomp
en gebarste sementdam
toegevou met skeefgetrekte sinkoog
bekyk verdroogde pyp
die boorgat ‘n droë pram.

Lewer kommentaar

Leave a Reply