Die top 5-liedjies in Maroela Media se Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog, wat ook die kategoriewenners is, is pas bekend gemaak. Die kategoriewenners, waaruit die publiek gaan stem vir die liedjie wat die titel Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye sal ontvang, is soos volg:
Tradisioneel: Die Stem van Suid-Afrika
Tydlose treffers: Kinders van die wind
Populêr: Pampoen
Raserig: Dis ʼn land
Kinderliedjies: Heidi
Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye[/caption]Dié vyf liedjies is as wenners in hul onderskeie kategorieë aangewys nadat duisende stemme in
hierdie stemrondte uitgebring is.
Die publiek het nou die geleentheid om vir die laaste keer te kom stem – hierdie keer vir die een liedjie wat die titel sal ontvang. Die wenliedjie word op 26 Oktober vanjaar bekend gemaak.
Tydens die laaste stemrondte kry elke persoon wat stem, een ja-stem en een nee-stem per dag, wat dit anders maak as die vorige stemfases. Deelnemers kan dus daagliks terugkom na die stem-webwerf by www.grootsteliedjie.co.za om hul gunstelingliedjie te ondersteun. Stemme vir die wenliedjie open op Saterdagaand 5 Oktober om 19:30, en sluit op Sondagaand 19 Oktober om middernag.
SMS-stemme sal ook in hierdie stemrondte uitgebring kan word, en een SMS-stem per selfoonnommer sal per dag toegelaat word. ʼn SMS-stem kan gestuur word aan die nommer 48052, met die woord “Virseker” en die sleutelwoord van die gekose liedjie in die SMS: “Stem” vir Die Stem, “Wind” vir Kinders van die wind, “Pampoen”, “Land” vir Dis ʼn land, of Heidi. Elke SMS kos R1.50.
Vir Afrikaanse musiekliefhebbers is daar dalk boonop aan die einde van die veldtog ʼn ekstra verrassing in die pyplyn. “Ons gesels tans met ʼn musiekmaatskappy oor die moontlikheid om van die top 50-liedjies op CD te verewig,” sê Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media. “Dis vyftig liedjies wat enige liefhebber van Afrikaanse musiek in een versameling bymekaar sal wil hê. Daar is ook die moontlikheid van ʼn boek wat die storie agter elk van die vyftig liedjies vertel. Die besonderhede hiervan is egter nog ʼn geheim, en ons sal meer daaroor vertel sodra al die fynere
detail deurgepraat is.”

Die paneel beoordelaars, wat uit bekendes in die Afrikaanse musiekbedryf bestaan, is dit eens dat dié vyf liedjies sterk mededingers vir die titel Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye is. Hulle is van mening dat hulle nie ʼn voorspelling wil waag oor wat in die finale stemrondte gaan gebeur nie, aangesien daar selfs vir hulle ʼn paar verrassings in die top 5 was.
“Omdat daar regdeur die veldtog soveel sterk liedjies op die kortlys was, is dit jammer dat ons in die stemproses soveel goeie kommersiële liedjies moes uitskakel,” sê Johan van Rensburg, voorsitter van die beoordelaarspaneel. “Dis egter die aard van ʼn kompetisie – uiteindelik kan ʼn mens net een wenner hê. Ons is tevrede met die top 5-liedjies, hoewel daar talle ander liedjies is wat netsowel die kategoriewenners en selfs die wenliedjie sou kon wees.”
Tinus Esterhuizen, een van die paneellede, reken dis verblydend om die hoë kwaliteit van die lied gekoppel aan wysie en liriek te sien. “Baie keer is liedjies bloot goeie liriek,” sê hy. “Maar in hierdie geval is dit bekende wysies met kragtige woorde wat na die finale rondte deurgedring het.”
Mense se hartsnare is duidelik geraak deur hierdie veldtog, sê Anna-Retha Bouwer, ook ʼn paneellid. “Dis duidelik uit liedjies soos Die Stem wat die top 5 gehaal het dat mense ver gaan terugdink het. Heidi is ook vir Afrikaanssprekendes baie nostalgies. Baie van hierdie liedjies is musiek wat mense uit hul kinderdae ken en onthou.”
Die feit dat drie van die vyf kategoriewenners inheemse komposisies is, is vir Giep van Zyl, paneellid, ʼn riem onder die hart. “Die twee vertaalde liedjies wat na die top 5 deurgedring het, het in elk geval al so deel van die Afrikaanse kultuurskat geword dat dit netsowel in Afrikaans geskryf kon gewees het,” sê hy.
Die publiek kan nou kom stem by www.grootsteliedjie.co.za. Ondersteuners van die veldtog kan ook by die Grootste Liedjie se Facebook-blad aansluit (www.facebook.com/grootsteliedjie) om op hoogte te bly met verwikkelinge in die veldtog.
Een deelnemer aan die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog wen aan die einde van die veldtog ʼn vierdag-bootreis vir twee op die MSC Opera, saam met die span van kykNET se Jukebox. Die waarde van die prys is sowat R15 000. Die wenner van die groot prys sal ook tydens Jukebox bekend gemaak word op 26 Oktober, wanneer die wenliedjie aangekondig word. Weeklikse pryse soos iPods, ATKV-vakansies, FAK-sangbundels, boeke, CD’s en wyn is ook op die spel.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

1. Pampoen
2. Kinders van die wind
3. Die Stem
4. Dis ‘n land
5. Heidi