In ‘n era van kits sterre wat net so vinnig verdwyn as wat hulle verskyn het, is Jack Hammer een van daardie groepe op wie die term “kits” nie van toepassing is nie.
Hulle nuwe album, getiteld Highway 13 is die produk van ‘n groep wat hulle skoolgeld reeds oor en oor betaal het. Met vingers verhard deur baie kilometers oor staal snare en stemme geslyp deur jare se gebruik (en misbruik) tot besonderse instrumente, kan hulle met reg aanspraak maak op die titel van Pioniers van Suid-Afrikaanse Rock.
Jy kan die sweet op die verhoog hoor val, die ekstra krapmerke aan die instrumente sien en die ritme van die langpad voel. En soos n draad wat deur die musiek vleg, is die groot stemme van die kitare.
Hulle is almal daar: Piet Botha op stemme, kitare, orrel en mondfluitjie, Jonathan Martin op kitaar, Tertius du Plessis agter die groot diksnaar, en die enigmatiese Paul van de Waal op tromme.
