Loufi betree ’n nuwe, dieper musikale genre met sy nuutste enkelsnit, “Huis Toe” – ’n rou, eerlike en emosionele lied oor kinderdae, vaderskap, geloof, pyn, verlange en die ware betekenis van huis.
Loufi is bekend is vir musiek wat energiek en dans gedrewe is, maar “Huis Toe” wys ’n heel ander kant van hom. Die lied voel soos ’n oop gesprek in stilte; ’n terugblik na die verlede, maar ook ’n keuse om anders vorentoe te leef.
Volgens Loufi is die lied gebore uit dinge uit sy kinderjare wat hy steeds moes “visit” en verwerk. Tog beklemtoon hy dat die lied nie net oor sy eie storie gaan nie, maar oor almal wat met ou wonde, stil pyn en onverwerkte herinneringe grootgeword het.
“Elke huis het maar sy eie kruis,” sê Loufi. “Daar is soveel mans en vrouens wat met hierdie song gaan kan relate, want baie van ons is geleer om net daaroor te kom en aan te beweeg.”
Die emosie van “Huis Toe” beskryf hy eenvoudig as rou en eerlik. Dit is ’n lied wat
wonde oopmaak met die hoop dat dit ander mense se wonde kan help genees. Die
lirieke raak aan temas soos ouerskap, vaderskap, geloof, seerkry en die verlange na ’n plek wat nie noodwendig perfek was nie, maar steeds deel van jou vormings jare bly.
Vir Loufi beteken “huis” vandag meer as net ’n fisiese plek. “Huis vir my is safety, liefde en geloof,” sê hy. “Home is where the heart is. Huis is waar en wat jy van jou
omstandighede maak.”
Een van die mees aangrypende elemente van die lied is Loufi se eerlike besinning oor pa-wees. Hy erken dat vaderskap hom op ’n dieper vlak uitgedaag het, veral in die stil oomblikke wanneer ’n mens met skuldgevoelens en self twyfel stoei. Die lied praat direk met mans wat soms voel dat hulle nie genoeg as pa, man of vriend is nie.
“Ek hoop dit remind baie mense, veral mans, dat hulle nie alleen is nie,” sê Loufi. “Al bly jy in ’n kar of onder ’n afdak, daardie stukkie family om jou is jou huis. Hulle kies jou oor en oor as die man van jou huis. Hulle het jou lief, my bra.”
In “Huis Toe” sing Loufi ook oor sy begeerte dat sy seun nie eendag met dieselfde seer hoef te loop nie. Vir hom is daardie deel van die lied ’n persoonlike herinnering om elke dag beter te probeer wees.
“Ek was vir lank baie seer en stukkend,” vertel hy. “Daardie lyric is vir my ’n reminder om elke liewe dag beter en harder te probeer, sodat hy nooit ooit so hoef te voel nie. En as hy ooit kwaad of seer teenoor my is, hoop ek ons kan vergewe en daaroor praat.”

Geloof speel ook ’n sentrale rol in die lied. Vir Loufi is geloof nie net ’n tema nie, maar ’n manier om deur pyn en die verlede te werk. “Geloof vir my is lewe,” sê hy. “Jy kan nie nuwe klere op ou wonde sit nie. Ons as mans moet leer om te laat gaan en te laat God.”
Met “Huis Toe” hoop Loufi luisteraars sal verstaan dat die verlede nie net ’n plek van pyn hoef te wees nie, maar ook ’n plek van groei. Die lied herinner mense daaraan dat ’n mens kan verlang, maar steeds teenwoordig moet bly in die lewe wat jy vandag bou.
“Ek hoop die mense wat die song luister, leer dat hulle verlede hulle net kan verbeter,” sê Loufi.
Hoewel “Huis Toe” tans as ’n selfstandige single uitgereik word, dui dit op ’n nuwe rigting in Loufi se musiek. Hy beskryf dit as die begin van dieper, meer persoonlike werk van sy kant af.
Die lied is veral vir dié wat steeds vlieg, al is hulle vlerke gebreek. “Hierdie song is vir die broken winged bird,” sê Loufi. “Vir die gebreekte vlerke wat steeds so hoog vlieg.”

Huis Toe - Loufi
Huis Toe – Loufi

Lewer kommentaar

Leave a Reply