Jou optog

Die Eindste se debuut-album het aan die einde van 2021 verskyn.

Hulle skop 2022 af met die musiekvideo van hulle tweede enkelsnit, uit die pen van hulle voorsanger, André Faurie, “Jou optog”.

Hierdie alternatiewe rocksnit, wat reeds speeltyd op bekende radiostasies geniet, gaan oor die angs van sosiale verwerping en die impak wat dit op jou lewe kan hê.

Omdat die boodskap van die liedjie so treffend en relevant is, was dit vir hulle belangrik dat die musiekvideo dieselfde trefkrag moes hê.

In die video, wat op Pringlebaai in die Wes-Kaap verfilm is deur Bow Tie Media, wys hulle hoe nou negatiewe aspekte soos verwerping en sosiale angs, verwant is aan positiewe temas soos hoop en liefde.

“Regdeur die liedjie word daar gewissel tussen positiewe en negatiewe temas. Met die video wou ons wou iets skep waarby luisteraars sou aanklank vind, maar wat nie algemeen gebruik word nie. Die akteurs het ons storielyn perfek vasgevang en die verskillende temas perfek weergegee. Items soos ’n fakkel, wat simbolies is van liefde, is ook in die video ingesluit,” verduidelik die groep.

“Ons voel dat Pringlebaai se mooi natuurskoon en die omgewing perfek bygedra het tot die gevoel wat ons vir die video wou hê en dat dit die temas wat ons aanspreek verder gekomplementeer het,” voeg hulle by.

Jou optog

“Jou optog” is die tweede enkelsnit vrystelling vanaf hulle debuut-album, Grys, wat deur Markus Els van Mark7Studios vervaardig is.

Die Eindste, waarvan die naam uit ’n gesprek tussen die groeplede ontstaan het, is in 2019 gestig toe ’n groep skoolvriende (André Faurie, Ruan Pieterse en Ian Putter) besluit het om saam musiek te maak as gevolg van hulle gedeelde passie vir Afrikaanse musiek waarby luisteraars kan aanklank vind.

Om musiek en videos te maak waarmee luisteraars kan vereenselwig, is vir Die Eindste baie belangrik en met hulle nuutste vrystelling kry hulle dit beslis reg om op ’n treffende manier hulle boodskap oor te dra.

Hulle album en enkelsnit is ook beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier: https://distrokid.com/hyperfollow/dieeindste/grys

Die Eindste

Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply