Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) speel gasheer vir ʼn rits klassieke musieksterre wat gaste weereens met ongelooflike weergawes van klassieke en moderne klassieke musiek op Saterdag, 11 Desember 2021, gaan vermaak.

Klassiek Piekniek is die perfekte kans om op die lowergroen grasperke van die monument skoene uit te skop, ʼn piekniek met vriende en familie te hou en deur die harmonieuse klanke meegevoer te word terwyl die son agter die ikoniese monument wegsmelt. Dit sal deur die Kaapstadse Operakoorlede Christine Bam, Ernestine Stuurman, Marvin Kernelle, Siphesihle Mdena en Dane Coetzee uitgevoer word.

Bam is ‘n mezzosopraan wat plaaslik en internasionaal opgetree het as deel van produksies soos Porgy and Bess, La Bohème, Grace Notes, African Angels en Così fan tutte. Stuurman is ‘n liriese sopraan wat die rolle vertolk het van Lauretta in Gianni Schicchi, Maria in West Side Story en Strawberry Woman in Porgy and Bess. Sy tree plaaslik en internasionaal op. Kernelle, die koormeester van die Kaapstadse Operakoor, was die koormeester en assistent-dirigent vir plaaslike en internasionale produksies van onder meer Carmen, Mandela Trilogy, Le Nozze di Figaro, Così fan tutte, Maria Stuarda, La Traviata en Die Vlieënde Hollander. Mdena is ‘n tenoor wat ‘n aantal rolle in verskillende operas vertolk het, waaronder Così fan tutte, L’elisir d’amore, plaaslik en internasionaal. Coetzee het tjello aan die universiteite van Kaapstad en Stellenbosch studeer, en al opgetree by konserte en feeste in Afrika, die Amerikas, Asië en Midde-Ooste.

Die vertoning begin om 19:00, en gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies en drankies (geen glas) mee te bring. Trek warm aan en bring ‘n flits asook ‘n masker saam. Sien www.taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle.

Toegang is slegs R100 per volwassene en R80 vir pensioenarisse en kinders – kaartjies is beskikbaar by Computicket en, indien daar nog oor is, by die hek op die dag self vanaf 17:00. Jaarpermitte (tot 30 November teen 20%-afslag beskikbaar) kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.

Klassiek Piekniek

Lewer kommentaar

Leave a Reply