Twee Suid-Afrikaanse legendes, Koos Kombuis en Valiant Swart gaan al die pa’s vermaak en bederf op Vadersdag, 18 Junie 2023 om 15h00 by Emperors Palace se Theatre of Marcellus. Daar is ook ‘n spesiale aanbod vir ‘n buffetete by Rosettas (12h00) plus kaartjies na die vertoning (15h00) teen slegs R500 per persoon. Die buffetete sluit ook ‘n gratis wyn- en koeldrankfonteine in. Besprekings kan gedoen word by www.LTickets.co.za of 0118153000.
Frans Swart, Besturende Direkteur van Lefra Produksies en organiseerder van hierdie spesiale konsert, sê hy is baie opgewonde oor die spesiale vadersdagkonsert. “Dit is min dat ‘n mens die kans kry om twee ongelooflike legendes saam in een konsert gaan sien. Alhoewel Koos en Valiant elkeen hulle eie vertoning gaan doen, is dit steeds ‘n besondere eer om die twee manne op die Theatre of Marcellus se verhoog te hê. Ek glo ook al die pa’s (maak nie saak hoe oud jy is nie) gaan die twee legendes baie geniet op Vadersdag,” sê Swart.

Koos gaan beslis van sy ou treffers sing, maar daar is ook ‘n paar nuwe liedjies wat hy so pas geskryf het. “Van my geboorte kan ek nie veel onthou nie,” sê Koos. “Ek weet wel dat dit gebeur het kort voor teetyd op 5 November 1954 in ‘n kraaminrigting in Duiwelspiek, Kaapstad. André le Roux du Toit is ek gedoop, maar op skool reeds het ek die bynaam Koos gekry. My ma was ‘n onderwyseres en my pa toe nog ‘n maatskaplike werker. Daar was nog nie iets soos kleur-TV in Suid-Afrika nie, selfs die alledaagse lewe was swart en wit, nes in die movie Pleasantville.
“Ek was mal oor die army en was daar laas so vet soos ek nou weer is! Toe al my vriende na ‘n jaar in die army Stellenbosch Universiteit toe gaan, het ek begin rondswerf van die een job na die ander. Ek was die meeste van die tyd in Johannesburg. Hierdie jare was baie donker en rigtingloos, maar ek het darem streetwise geword. Ek het my hand aan alles probeer: hoenders braai by Kentucky Fried Chicken, pizzas maak in restaurante, polisse verkoop, brande blus, klerk-speel in die staatsdiens en sulke goed. Ek het vir ‘n ruk selfs my lyf fortuinverteller gehou en vir verveelde huisvroue voorspel wat die geslag van hulle babas sou wees – hierdie beroep het immers ‘n 50% kans op sukses gehad, en ek was meer dikwels reg as verkeerd.”
Sy kortverhale in Huisgenoot het gelei na groter sukses. Hy het sy naam verander na André Letoit om verwarring met ander skrywers te voorkom en ‘n hele paar boeke (romans, kortverhale en gedigte) gepubliseer gedurende die volgende paar jaar. Toe hy verveeld raak met die erns van die literêre wêreld, het hy ‘n kitaar gekoop en begin liedjies skryf. Die een ding het gelei na die ander, en vandag het Koos tien CD’s agter sy naam.
En wat is sy mening oor Suid-Afrika? “Hierdie kak moet nou einde kry!”

Valiant Swart is ook een van die mees legendariese kunstenaars in Suid-Afrika. Sy debuutalbum, Die Mystic Boer, is in 1995 deur Rhythm Records uitgereik.
Swart se naam is volgens die musikant ‘n verwysing na die swart Valiant wat sy pa gery het toe hy nog kind was. Een van Valiant se grootste treffers, “Die Mystic Boer” toon ooreenkomste met die gedig “Raka” van NP van Wyk Louw en spreek kwessies rondom die identiteit van die Afrikaner en sy soeke na ‘n nuwe besef aan. Daarna volg heelwat treffers soos “Sonvanger”, “Eyeshadow”, “Jakarandastrate”, “Liefde in die suburbs” en vele meer. Swart is naas Koos Kombuis een van die kunstenaars wat die meeste by die jaarlikse Oppikoppi-musiekfeeste opgetree het.
Hy was ook ‘n hoofakteur in die TV-reeks Song vir Katryn en het ‘n reisprogram oor jazzmusiek vir kykNET genaamd 40 dae deur die Delta, asook ‘n kuier-/reisprogram Mooiloop, vervaardig.
In 2008 word hy saam met Ollie Viljoen met ‘n SAMA-toekenning vir hulle album Vuur en vlam in die kategorie Beste Afrikaanse Tradisionele Album bekroon.
Valiant sê dat hy so pas ‘n nuwe album, Rondry, Fliek en die Buitelewe uitgereik het en van die nuwe songs, soos “Lied van die langpad” sal beslis gehoor kan word. “Maar moenie bekommerd wees nie – ek gaan beslis al my ou treffers ook sing.