“Goeienaand! Ek is Ilne Fourie, julle kelner vir die aand, so as julle enige iets nodig het vra my gerus en ek sal my bes probeer om julle so vinnig as moontlik te help, skree net as julle iets wil hê, ek het regtig niks beter om met my tyd te doen nie, ek bedoel, ek is mal daaroor om heeldag tussen mense rond te hardloop, en gelukkig met my splinternuwe bunions voel ek dit glad nie meer as my skoene my tone druk nie! Ek is gek daaroor om borde wat vuurwarm is vas te hou en telepaties met jou te kommunikeer en jou te vra om jou handsak, jou smartphone, jou wetwipes, jou nuwe Oakley-sonbrille en YDE-beursie en jou pragtige gedroggie se tandering, sy taaierige gesmelte roomys en Spiderman-action figure van die tafel af te haal sodat ek jou bord kan neersit sonder om my vingers te verloor! Ek is nie regtig bly om julle weer te sien nie … infact … ek het heimlik gebid julle gaan vanaand Spur toe, want vandag het ek nie a taste for life nie – ek is moeg, ek het 8h00 vanoggend laas geeët, dit is Durbanville, dit is warm – in kort – wat is vandag julle special – Mevrou, ons special vir vandag is GATVOL, KEELVOL EN BOGGEROL … soek u dit met room of roomys, warm of koue melk?”
Sharrap, en eet jou kos! is ‘n komiese eenvrouvertoning waarin Fourie die draak steek met kliënte wat sy bedien het as kelnerin die afgelope jaar. Elke karakter word met kleur en geur vertolk, stories word vertel, daar word geskinder, geklets, gekloek en natuurlik gekoek en tee tot jy sal skater van die lag. In Fourie se tipiese vertelstyl kry die kyker ‘n indiepte kykie van wat agter die skerms … of sal ‘n mens liewer sê skinkborde gebeur! Hier is ‘n tip – moenie dit misloop nie!
By Die Boer teater-restaurant in Durbanville op 22 Junie om 20h30
Kaartjies kos R160 en is beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com