Dewald van Rooyen se nuwe enkelsnit, “Country In My Bloed”, is onlangs vrygestel.
Toe Dewald van Rooyen moes besluit of hy vir sy volgende enkelsnitte op Afrikaanse musiek of Country-musiek sou fokus, het hy uiteindelik ’n ander antwoord gekies: waarom moet hy tussen die twee kies?
Die resultaat is “Country In My Bloed”, ’n Afrikaanse Country-enkelsnit wat sy liefde vir Country-musiek kombineer met sy Afrikaanse taal en Suid-Afrikaanse identiteit.
Vir Dewald is die liedjie ’n persoonlike uitdrukking van sy liefde vir Country-musiek en sy passie vir liedjies skryf.
“Ek het nie ’n spesifieke gebeurtenis gehad wat die lirieke geïnspireer het nie. Dit kom eenvoudig uit my liefde vir skryf en Country-musiek,” verduidelik Dewald.
Die enkelsnit is egter vir hom besonder spesiaal omdat hy die liedjie self geskryf, sy vokale en agtergrondsang opgeneem en die produksie behartig het.
“Ek dink aan elke liedjie wat ek vrystel as my eie baba wat ek grootgemaak het totdat dit uiteindelik die huis verlaat. Maar “Country In My Bloed” is net ’n bietjie meer spesiaal, omdat ek die skryfwerk, opname en produksie alles self gedoen het. Ek is eenvoudig baie trots op die finale produk,” sê hy.
Die liedjie is geskep met behulp van ’n KI (AI-gegenereerde instrumentale snit waarvoor Dewald die nodige regte besit. Hy het daarna self die hoof- en agtergrondsang opgeneem en die finale produksie met opnamesagteware behartig.
Hoewel “Country In My Bloed” Dewald se nuwe stap binne die genre is, is dit nie sy eerste Afrikaanse Country-vrystelling nie. In 2020 het hy “Een Laaste Kans” vrygestel, ’n Afrikaanse Country-liedjie waarvoor hy ook die lirieke geskryf het.
Dewald se huidige musikale inspirasie sluit onder andere die Britse Country-kunstenaar James Johnston in, wie se energie en liefde vir Country-musiek hom besonder inspireer.
Plaaslik vind hy groot inspirasie by Elizma Theron, wat self ’n liefde vir Country-musiek het en ook ’n goeie vriend van Dewald is.
“Elizma is altyd bereid om te help wanneer ek musikaal vashaak. Dit is ongelooflik waardevol om iemand te hê wat jou musiek verstaan en met wie jy idees kan deel,” sê Dewald.
Met “Country In My Bloed” kombineer Dewald sy liefde vir Country-musiek met sy Afrikaanse identiteit en gaan hy voort om sy eie klank as onaĬanklike Suid-Afrikaanse kunstenaar te ontwikkel.

