Konsert en kuier gaan hand aan hand, en handjies vashou is mos Liefde.
Vanjaar vind die gewilde Liefde by die Dam op Sondag 5 Augustus plaas – weer by Emmarentia Dam, een van Suid-Afrika se mooiste konsert-tuine. Liefde By Die Dam, vernoem na Valiant Swart se bekende treffer met dieselfde naam, strewe daarna om as vertoonvenster vir die beste plaaslike talent te dien. Die program sorg vir die heerlikste musiek vir jonk en oud;`n ideale musiekbelewenis vir die hele gesin of `n lekker dag uit saam met jou “besties.”
Sewe top SA kunstenaars deel vanjaar die Liefde by die Dam verhoog: Die Heuwels Fantasties, Karlien van Jaarsveld, Francois van Coke, Koos Kombuis, Elvis Blue, Bongeziwe Mabandla, Martin Bester en Bouwer Bosch. Seremoniemeester Schalk Bezuidenhout gaan die program se verloop met ligte vermaak bymekaar hou.
Die Heuwels Fantasties, Karlien van Jaarsveld, Francois van Coke, Elvis Blue en Bouwer Bosch was die afgelope tyd gereeld in die nuus met nuwe uitreikings en radiotreffers en het al elk verskeie gesogte SA musiektoekennings losgeslaan. Voeg daarby een van ons land se mees invloedryke kunstenaars, die legendariese Koos Kombuis, asook die nuwe gesig van “Afro Folk”, Bongeziwe Mabandla, en die immergewilde Jacaranda FM omroeper en sanger Martin Bester, en Liefde by die Dam 2018 beloof om `n onvergeetlike konsert-ervaring te wees.
Charlotte Kanter, Liefde by die Dam se bemarkingsbestuurder sê dat hulle weer vanjaar kragte span met Bouwer Bosch en sy Liefde Wen span om na die afloop van die konsert komberse in te samel vir minderbevoorregtes. “Ons help graag ander; bring jou kombers en los dit na die konsert agter. Liefde Wen sal seker maak dit kry die regte huis. Ons beoog om vanjaar 1000 komberse by Liefde by die Dam in te samel.”
Program:
Hekke maak 10h00 oop.
11:00 – Martin Bester
11:40 – Bouwer Bosch
12:25 – Bongeziwe Mabandla
13:30 – Karlien van Jaarsveld.
14:30 – Koos Kombuis.
15:15 – Elvis Blue
16:15 – Die Heuwels Fantasties
17:15 – Francois van Coke
Datum: 5 Augustus 2018
Tyd: 10VM – 6NM
Plek: Emmarentia Dam, Johannesburg
Kaartjies by Computicket.
R165 Aanlyn / Kinders 12 jaar en jonger: R75 / Onder 3: Gratis.
Spesiale kaartjie aanbieding:
VIP kaartjies: R595 – sluit VIP ingang, spesiale sitplekke naby verhoog, gratis drankies en versnapperinge.