Nádine vlieg oorsee

Die afgelope dertien jaar het Nádine Suid-Afrikaanse vermaak, nou sprei sy haar vlerke met die uitreiking van haar eerste internasionale album.

Met die album This Time I Know toets sy die volwasse kontemporêre internasionale mark. Die radiosnit, “This Time I Know It’s For Real”, geniet lugtyd op verskeie sleutelstasies in Suid-Afrika – Highveld, KFM en Jacaranda. Dié snit is ‘n innige liefdesballade – ‘n produksie deur regisseur Nick Manic van Swede – en stel Nádine se vokale vertolkvernuf ten toon. Die album is hoofsaaklik in Swede opgeneem, met aanvullende werk in ateljees in België en Suid-Afrika.

Vir Nádine was dit ‘n nuw ondervinding om ‘n internasionale album te skep. “Ek het nog altyd geweet dit verg harde werk. Die afgelope dertien jaar in die bedryf was ‘n wonderlike leerskool, maar toe dit opnametyd vir dié album word, het ek besef ek werk nou met die beste regisseurs, liedjieskyrwers en stemafrigter. Hulle het die beste in my na vore gebring en ek het vokale vlakke bereik wat ek nie geweet ek oor beskik nie. Dit was soms ontsettend uitmergelend, maar ek is dankbaar ek het dié loopbaanrit aangedurf.”

Hugo Foets, Nádine se bestuurder in België, bestuur oor die internasionale sangeres Dana Winner. Hy is oortuig daarvan dat Nádine oor die talent en daardie spesiale eienskap beskik om Europese musiekliefhebbers te oorrompel. In Suid-Afrika het Nádine al oor die 500 000 albums verkoop en sy gedurig in aanvraag vir konsertoptredes. “Die oomblik toe ek haar stem hoor op ‘n Afrikaanse samestelling, het ek geweet dié is ware talent,” sê Hugo Foets.

Nádine is gereed en bereid om die lang pad na internasionale loopbaanwelslae uit te kerf. “Ek het immers begin om van stad na stad en dorp na dorp en fees na fees te toer om vir mense te sing en hulle te vermaak. Ek weet dit verg harde werk. Ek is rég vir die uitdaging!”

Terwyl sy alles in haar vermoë gaan doen om internasionale erkenning te verwerf, sal sy altyd haar getroue Suid-Afrikaanse bewonderaars tevrede stel. “Dit is hulle wat my die geleentheid gebied het om my droom ten volle uit te leef en ek sal my ondersteuners altyd diep in my hart koester.”

Die Suid-Afrikaanse uitreiking van die album This Time I Know sal daarom ook drie liedjies in Afrikaans bevat. Die ander twaalf liedjies is en Engels, gemik op die oorsese mark.

“Dit gaan geensins om ‘n drastiese fokusskuif nie; dit gaan eerder oor die begin van ‘n nuwe hoofstuk in my lewe: nóg musiek. Want musiek is my lewe en my lewe is musiek.”

Nadine

Lewer kommentaar

Leave a Reply