Nibs Van der Spuy is, soos Charlize Theron, van Benoni afkomstig en wel sedert 1966 waar sy pa vlieënier en sy ma (klassieke-) pianis was. Musiek was populêr by almal in die Van der Spuy-huishouding. Nibs se broer het ‘n groot invloed op hom gehad en hom voorgestel aan die musiek van die Beatles, Rolling Stones en die Allman Brothers. Sy pa was ‘n aanhanger van Glen Miller, Artie Shaw en Tommy Dorsey. Nibs se eerste kennismaking met kitaar was op die ouderdom van 7 toe hy “Eleanor Rigby” tydens ‘n skoolkonsert gespeel het. In 1982 ontdek hy Dixie Dregs en is tot vandag ‘n aanhanger van die groep se kitaarspeler Steve Morse. Nibs streef dieselfde diversiteit in vertolking na.Na skool, studeer hy Luthiery (kitaar konstruksie) aan die Roberto-Venn School of Luthiery in Phoenix, Arizona. Met sy terugkeer en na verpligte militêre diensplig, skryf hy in as musiekstudent by die Natal Technikon in Durban in 1988. Dosente sluit in die flamenco kitaris Demi Fernandes en basvirtuoos Marc Duby.
Saam met die twee talentvolle kitaarspelers Fuzzy Roadstone en Abbo Hall vorm hulle die groep Plagal Cadence en word kultus figure in Natal na die uitreiking van die album Live at the Courtyard. Ongelukkig het die groep ontbind en is die album tans uit druk. As ernstige instrumentalis, vorm Nibs Landscape Prayers in 1993 tesame met Ross Campbell (dromme) en Didier Noblia (bas). Tussendeur aanvaar hy die pos van kitaardosent aan die Natal Technikon én die Universiteit van Durban-Westville, en neem hy en die lede van Landscape Prayers die debuut-album op met die gelyknamige titel ‘n jaar later. Sheer Sound het die uitreiking hiervan in 1995 oorgeneem. (Ross en Didier is lede van die Durbanse groep Urban Creep.)
Teen 1995 het Landscape Prayers bestaan uit Nibs en die huidige lede Ant Cawthorn-Blazeby (viool), Logan Byrne (bas) en Bruce Baker (dromme). In die eerste ses maande van die nuutgevormde groep neem hulle die album Bush Telegraph op met ou vriend Gito Baloi (bas en vocalist vir Tananas) as vervaardiger. Dié album is in Januarie 1997 uitgereik en genomineer vir Beste Instrumentale Album tydens die SAMA toekennings en as beste instrumentale album tydens die FNB Suid Afrikaanse Musiektoekennings in 1997.
Die volgende paar jaar toer die groep gereeld deur Suid-Afrika en Mosambiek asook internasionaal na Frankryk en Italië. In 1999 verskyn Nibs se eerste solo album Lines on my Face en Transmigration Man, wat beskou word as die groep se beste album tot dusver. Beide is genomineer vir beste instrumentale album tydens die 2000 SAMA toekennings. In 2000 neem die groep hulle vierde album, Lontano op saam met gaskunstenaars Modena City Ramblers (‘n populêre Italiaanse keltiese groep) en inisiatief wat optredes in Suid-Afrika en Italië ingesluit het.
Nibs is ‘n kitaarmaker, musiekdosent, komponis en eerste kitaarspeler. Sy styl bevat elemente van rock, barok, die klassieke en westerse swing. Hy gee kitaarles en is aktief betrokke by werkwinkels vir skole regdeur S.A. wat inspirasie tegnieke, musiekbewusmaking, spanwerk en motivering ten doel het.
Kunstenaars met wie hy al opgetree het, sluit in Modena City Ramblers (Italië), Gito Baloi (Tananas), David Birch (Squeal) en Crallan Potgieter (Citrus). Optredes sluit in Txova, Mputo, Moabite (1996), The Splashy Fen musiekfees in Kwazulu Natal, (97, 98, 99), die Fin De Siecle fees in Nantes, Frankryk in 1997, Radio Hoëveld lewendige uitsending, Blues Room, Johannesburg (1997), Oppikoppi musiekfees (1998), Grahamstadse kunzites (2000), Hilton fees (2000), Moabite (2001), KKNK (2001), Italië (2001) en ‘n Nasionale toer in 2002 met die SA rockgroep Tree63.
