Onderhoud met Johannes Kerkorrel

deur Haydee Hollander

Johannes Kerkorrel se laaste (gepubliseerde) album voor sy tragiese dood op 12 November 2002 was Die Ander Kant en hierin lê twee bitter ironieë. Die sanger wat gebrandmerk was as ‘n sell-out en ‘n politieke opportunis wou aanhangers sy sagter, poëtiese sy wys, die kant wat ‘n kunstenaar nodig het om die intensionele wreedheid van sy waarneembare wêreld bloot te lê, maar sy aanhangers was nie gereed vir die oorgang van Sit dit af! na Dis Net Jy. nie, dieselfde studente-aanhangers wat nou vuurwarm BMW’s ry en dubbelborspakke dra (sóós Kerkorrel in sy vertonings van Die Ander Kant). Was dié album Kerkorrel se spreekwoordelike dodedans en My ewig ontwykende beminde (op die 1996 album Ge-Trans-For-Meer) ‘n heenwysing na die onafwendbare?

Ralph Rabie was 42 jaar oud ten tyde van sy dood.

.die stad is nie vir dromers nie
al sy geheime is uitgelap
dis verkoop, gekoop en uitverkoop
en al wat dit vat
is om van voor te begin

aan die ander kant (uit Die Ander Kant September 2000)

.Ralph Rabie, boerseun uit die klein dorpies van die Hoëveld, het, nadat hy ‘n graad in kommunikasie, bedryfsielkunde en Engels aan Potchefstroom en ‘n honneursgraad in Engels aan die Universiteit van Kaapstad behaal het, vier jaar lank as verslaggewer gewerk maar is afgedank by die betrokke Afrikaanse koerant nadat PW Botha ‘n dreigende vinger van verset gewys het na dié sogenaamde politieke aktivis. Dit het die fondasie gelê vir die troebel jare wat sou volg.

As jy dit nog nie gedoen het nie, lees terstond Willem Pretorius se boek Kerkorrel, Tafelberg Uitgewers, 2004.

Hier volg ‘n transkripsie van ‘n radio onderhoud met Johannes Kerkorrel op 6 Junie 2000 oppad vir ‘n konsert van Die Ander Kant in Die Sterrewagteater in Bloemfontein. Die onderhoud is telefonies gevoer met talle onderbrekings en geen netwerk op kardinale plekke.

Haydee: Goeienaand Johannes, kan ek vir die doel van die onderhoud verwys na jou verhoogpersona want ek ken nie vir Ralph nie?

Johannes Kerkorrel: haai goeienaand! Ja!

Haydee: .baie welkom, jy is amper in die Vrystaat.

Johannes Kerkorrel: ja ons ry nou hierso by die Gariepdam so ek voel darem al in die Vrystaat.

Haydee: Johannes, jy het vele naamsveranderinge ondergaan die afgelope jare. Jou doopname is Ralph Rabie. Vertel bietjie van jou verhoogname.

Johannes Kerkorrel: .nee my verhoognaam wou ek uh verander na Johannes gewoon toe, maar dit was toe nou nie aanvaarbaar gewees. Deesdae, vir die mense wat my ken en ook vir my platemaatskappy wat sê dis vir hulle baie moeilik om dit te bemark, so ek is terug by my naam soos dit altyd was – Johannes Kerkorrel.

Haydee: Jy is een van die kunstenaars wat meegedoen het aan die versamel-album Om te Breyten. Anton Goosen, uitvoerende regisseur, het julle genader met die opdrag dat daar geen instruksie is nie, dat dit ‘n geleentheid was om jou verbeelding kreatiewe vryheid te gee. Wat was die doel met die album?

Johannes Kerkorrel: Hm, ek dink dis ‘n baie. dis ‘n baie nice idee omdat Breyten. is so, Breyten is sekerlik in Afrikaans en ook in die wêreld ‘n gerespekteerde skrywer en daar’s dinge wat Breyten sê op ‘n manier wat niemand anders kan doen nie en dit was baie lekker om musiek te maak vir daai soort van woorde en Breyten se unieke manier van skryf. En ek wou musiek maak wat pas by. by die betrokke gedig wat ek gekies het.

Haydee: Watter gedig het jy gekies Johannes?

Johannes Kerkorrel: die gedig se naam is Aa! mens en dit gaan oor al die goeters wat mense vra as hulle. as hulle van die gode iets vra. As hulle van God iets vra, dan. dit gaan daaroor.

(Gee dat ons vandag ons daaglikse brood mag verdien,
En die botter, die konfyt, die wyn, die stilte,
Die stilte van wyn –
En lei ons in versoeking van velerlei aard
Sodat die liefde van lyf na lyf kan spring
Soos die vlammetjies van is-is van berg na berg
Braambosse van vuur tot aan die wilste maan bring)
– uit Aa, mens! Woorde Breyten Breytenbach. Musiek Johannes Kerkorrel

Haydee: Dit is nie die eerste maal dat jy met Breyten Breytenbach kennis maak nie. Verlede jaar was jy te sien in Johnny Cockroach waarin jy sing en toneel speel. Breytenbach het die stuk op jou voorstel vir jou geskryf. Waaroor handel dit?

Johannes Kerkorrel: .uh ja, ek het daarin die rol gespeel van ‘n boer uit die. uit die. uit die wêreld, vroeg uit die oorlog uit, uit die boere-oorlog uit en uh. daar was twee cockroaches in dit ingeweef en hulle is soort van diere wat vir ewig leef en uh, die hele wêreldgeskiedenis het dan soort van rondom dit afgespeel. Daar was ‘n Engelsman in, dan was daar ‘n godin in gewees wat almal dophou en kyk wat almal doen en, verskeie karakters wat soort van deur die geskiedenis en deur oorloë en deur die politiek. dit was eintlik ‘n opsomming van alles wat gebeur het in die vorige eeu. In die twintigste eeu en in daai opsig het ek dan nou gespeel die rol van die boer wat net uit die Vryheidsoorlog kom en dan later raak hy meer modern en kom hy by. Dis. ja dit was eintlik ‘n baie heavy play en ek moet sê ek het dit geniet.

Haydee: Is daar iets van jouself in die karakter?

Johannes Kerkorrel: Absoluut niks wat ek kon sien nie. Ek het. ek het vir Breyten gevra om vir my ‘n rol te skryf en die rol wat hy vir my geskryf het was die rol van ‘n boer maar dit was ‘n baie tradisionele boer gewees met ‘n khaki hoed, en uh met khaki klere en uh. met wonde aan hom wat hy in die Vryheidsoorlog opgedoen het. En hy is eintlik ‘n baie verbitterde karakter gewees wat. wat bitter was oor die feit dat hy die boere-oorlog verloor het, dat sy plaas afgebrand is, en jy weet. dat hy in die politiek opsy uhm. geskuif is en so aan. Dis nie eintlik soos ek sê ‘n rol waarmee ek nou kon identifiseer nie maar nogtans was daar iets, was daar raakpunte want ek ken baie mense wat wel so was maar ek meen ek deel nie daai soort van sentimente nie.

Haydee: .jy het drama geswot by Babs Laker se dramaskool in Kaapstad. Hou jy van toneelspeel?

Johannes Kerkorrel: ek moet sê ekke dink nie ek is daarvoor gemaak nie ek het, ek het ná die stuk van Breyten gesê ek gaan nooit weer op die verhoog gaan as ‘n akteur nie. Dis nou absoluut my laaste probeerslag as ‘n akteur gewees. Ek dink dis ‘n absolute ander dissipline. As jy ‘n akteur is dan moet jy ‘n gawe van die gode hê om mense te transporteer na ander ruimtes toe, jy moet ‘n karakter kan aanneem, jy’t. jy’t. jy het ‘n gawe en ‘n talent daarvoor nodig en ek dink nie ek het regtig daardie gawe in ‘n uitsonderlike mate gekry nie so vir my was dit baie moeilik gewees om. om dit te doen en uhm. alhoewel ek die ervaring geniet het en om. dit was om met ‘n baie baie talentvolle cast mee saam gewerk het uhm was die dele wat vir my die lekkerste was. was om te sing en ek het daarna besluit ek sal eerder daarby hou, ek sal in die toekoms net sing.

Haydee: Hoe sou jy die musiek van Cockroach beskryf?

Johannes Kerkorrel: .dis wat jy sou noem baie kontemporêre klassieke musiek, eksperimentele uhm eksperimentele klassieke musiek uh as jy dink aan iemand soos Pacovich dis. dis. dis daai tipe van musiek, dit is uh eksperimenteel, dis avant garde, dis wilde, dis heeltemal onverwags en dit was ook baie moeilike musiek om te leer. Dit was vreemde fraserings wat jy moes gebruik, uh. fraserings wat ek byvoorbeeld as ‘n sanger uh nooit in my eie musiek sou gebruik het as ek. as ek self skryf nie hm. en dit is deur twee studente wat komposisie geswot het in Stellenbosch, een daarvan was Adrian van die Springbok Nude Girls. Hulle het daaraan gewerk so dis. dis gestruktureerde eksperimentele advant garde musiek en heeltemal heeltemal heeltemal nie my lyn nie maar ek moet sê die feit dat ek dit kon regkry om dit te bemeester was vir my al genoeg gewees.

Haydee: ons gaan later bietjie terugkom na die klank van jou musiek. Vir In ‘n Ander Taal sing jy van jou eie, sowel as ander digters en liedjieskrywers se werk. Rosa Keet se gedig Moenie dat die kinders hoor nie het jy in ‘n vertoning ingewerk. Sou jy sê musiek is ‘n kreatiewe manier om met taal om te gaan?

Johannes Kerkorrel: .ja ek dink. as. as jy eers uh. om ‘n taal te kan sing is dit. is presies wat dit sê jy laat ‘n taal sing so jy sit die taal in ‘n hoër dimensie in, en jy lig hom op en. en ek weet nie, daar is een of ander magiese kwaliteit in musiek dat die oomblik dat jy iets sing dan tref dit dieper dan gaan dit soort van, dit gaan na die hart toe, dit. dit uh dit maak onmiddellik ‘n dieper indruk op mense. Dit hang natuurlik ook af wat jy sing, ek meen as. as die lirieke nie inhoud of diepte in het nie dan help dit nou maar nie dan bly dit oppervlakkig. Dit gee dit. dit gee dit daai magiese kwaliteit.

Haydee: Die nou reeds legendariese Voëlvry-toer het in Maart verlede jaar (1999) sy tienjarige reünie gevier onder die naam Kaktus is Voëlvry. In 1990 is Voëlvry op Afrikaanse kampusse en radio verban en is jy na Europa waar Eet Kreef in dieselfde jaar vrygestel is. Gedurende die tyd word jou liedjie Hillbrow ‘n treffer in die Lae-lande en word jy uitgenooi om in België te toer. Hier het ‘n klomp goed gelyk gebeur. Vertel.

Johannes Kerkorrel: .uhm, dit was maar net uh. ‘n besige jaar gewees. Ek het nie verwag enigsins dat my musiek in Europa gespeel sou word nie maar tog ek dink, Hillbrow was ‘n besondere nommer gewees en dit het mense tog getref en op grond daarvan het ek heelwat werk gedoen op televisie in Nederland en in uh. Vlaandere ook en deur die land getoer en my goed gesing en dit was vir my baie interessant en fassinerend. Ek het nooit gedink daar is eintlik ‘n ander land in die wêreld waar mense Afrikaans kan verstaan nie maar toe’t ek ook agtergekom dat Afrikaans is. is. is nie so ver verwyderd, of Afrikaans is nie so heeltemal uniek, Afrikaans het nie sommer uit die lug uit geval nie dit is gegrond op. op die Nederlandse taal. Dit is waaruit dit ontstaan het, en jy kan dit baie duidelik sien ook en jy kan dit duidelik hoor as jy in aanraking kom met daai taal.

Haydee: .net vir luisteraars, Johannes Kerkorrel is baie beskeie. Wat hy nie noem nie is dat hy by die Dranouter fees deur 15 000 mense ontvang is en die toeskouers het jou liedjies saam met jou gesing. Al 15 000 van hulle.

Johannes Kerkorrel: (giggel) ja! dis.. dit het al meer as een keer met my gebeur daarso. Ek dink omdat die album oor die radio gespeel is en uhm. het mense dit leer ken en ja daar was soort van iets omtrent Eet Kreef! gewees wat vir mense amusant en fassinerend was terselletyd. Ek uh. dink dis ‘n bietjie van die satire en ‘n bietjie van die humor was vir mense lekker en natuurlik ook die feit dat Afrikaans vir hulle – hulle sal sê dit klink vir hulle grappig of dit klink vir hulle. jy weet snaaks. wat ons nou sal noem snaaks. Dis. dis vir hulle fassinerend die taal.

Haydee: Johannes, intussen het daai syfer van 15 000 opgeskuif na 120 000.

Johannes Kerkorrel: (stilte) .ja wel jy bedoel seker toe ek by die Unie-gebou gesing het? By die inhuldiging by President Mbeki. Ja dit was beautiful uhm en dit was oorwegend ‘n swart gehoor gewees en dit was vir my ook amazing. Ek dink dat. ek het vergeet deur die jare dat Halala Afrika was baie uitgesaai oor televisie en mense ken dit. En hulle ken al die woorde en hulle. hulle. hulle verstaan dit ook. Dit was vir my, ja dit was vir my ‘n ongelooflike ervaring ook.

Haydee: In 1991, nadat Eet Kreef! verban is, het jy die land verlaat met die voorneme om nooit weer terug te keer nie. Die bekende lied Al lê die Berge nog so Blou het jy ‘n hedendaagse maar steeds herkenbare baadjie aangetrek. Jou weergawe wen twee FNB Sama toekennings, een vir beste Afrikaanse vertolking en een vir beste manlike kunstenaar. Is die liedjie tekenend van jou terugkeer na Suid-Afrika, na Afrikaans?

Johannes Kerkorrel: Ja ek dink so. Ek dink dit is presies wat dit is ek meen ek wou destyds toe ek begin werk het met die nommer, met die liedjie, ek wou dit ‘n baie kontemporêre gevoel gee maar terselftertyd wou ek al die tradisie wat daarin was, wou ek ook vasvat en ‘n stappie verder voer en dit alles in ‘n ander dimensie insit. Ek is baie bly hoe dit uitgekom het, ek is ook baie bly om terug te wees in Suid-Afrika ek meen, jy kom agter as jy in ‘n ander land werk, dit maak vir jou sin waar jy vandaan kom en wie jy is en waar jy grootgeword het. Dit maak dit vir jou moontlik dat dit. ‘n hele land vir jou iets kan beteken terwyl as jy in ‘n totaal en al ‘n vreemde land sing of skryf dan weet jy nie oor wie jy moet skryf of waaroor jy moet skryf of . jy weet eintlik nie waar jy is nie want jy is in ‘n totaal vreemde plek en dit maak dit baie moeilik om. om altyd sin te maak van jou eie bestaan as jy in heeltemal ‘n vreemde land is.

Haydee: In aansluiting daarby dink mens aan liedjies soos Halala Afrika, Hillbrow en Ballade vir ‘n Mynwerker. Put jy nog inspirasie uit Afrika as bron?

Johannes Kerkorrel: .ja ek. ek. ek. ek hou van die klimaat en ek hou van die mense, sommige van die mense – nie almal nie. En ek. ek. ek het op ‘n stadium baie ideale vir Afrika gehad, baie hoop gehad en ek dink nou voel dit vir my meer dit is uit my hande uit. Ek kan regtig, dis.. dis.. iets wat mense vir hulleself moet besluit of hulle dit gaan laat werk en of hulle dit kan láát werk. Maar uhm, dit is ook hoe ek oor die politiek voel deesdae. Wat ek doen of sê maak regtig geen verskil meer nie, ek het geen invloed nie en terselftertyd is daar ‘n heeltemal ander generasie mense wat werk in politiek en ek heg nie meer so waarde aan politiek nie.
Ek dink. uhm. wat werklik saakmaak indien ‘n mens enige van Afrika se probleme wil oplos is dat jy na die wetenskap moet gaan. Dat jy op ‘n wetenskaplike manier moet omgaan met al die probleme, die sosiale probleme, die probleme met verstedeliking, die probleme met die skade aan die omgewing. Jy moet vergeet van politiek want dit gaan om mag, dit gaan om iets heeltemal anders. Armoede byvoorbeeld en die feit dat mense honger ly is iets wat op ‘n wetenskaplike manier aangepak en opgelos kan word. Wat die toekoms aanbetref, sou ek myself eerder wou voeg by ‘n groep mense wat glo daar is net een oplossing vir ‘n probleem en dis die regte benadering, dis ‘n wetenskaplike benadering, dis die gebruik van tegnologie om. om. die beste moontlike oplossing te vind vir enige probleme wat jy kan hê. Hetsy dit nou sosiale probleme is, of probleme met armoede. Politiek in daai opsig is baie keer eerder ‘n stok in die wiel. Dit laat ‘n mens .jy weet dit alles word onmiddellik verdeel in ‘n party. Jy moet aan dié party of daai party behoort anders kan niks gebeur nie. Maar op die ou end gebeur daar eintlik ok niks nie. So vir my vind .ek politiek effe belaglik jy weet. en die enigste manier hoe ek dink jy vir Afrika kan hoop gee, is om op ‘n wetenskaplike manier al die probleme wat Afrika ervaar, aan te pak.

Haydee: .die album Bloudruk wat in 1992 in Europa vrygestel is. jy is teruggenooi om op die Vlaamse en Nederlandse Somerfeeste op te tree saam met jou Antwerpse orkes. Die toer was só suksesvol dat jou stem op bykans elke radiostasie gehoor en twee dokumentêre programme op Belgiese TV gebeeldsend is. Bloudruk is ‘n ekologiese album, die liedjie Blou Aarde wat deur Reuben geskryf is as voorbeeld. Wat het van jou ‘n ekoloog gemaak, wat het die album voorafgegaan?

Johannes Kerkorrel: .ek dink dit is die feit toe ek begin reis oor die aarde en toe ek sien hoe ontsettend dig bevolk die wêreld werklik is. Hoe bitter bitter min van enige natuur eintlik oor is in Europa, dat ..hoe lyk dit as daar soort van ses bane verkeer is wat vassit aan die een kant en aan die ander kant. is daar ook ses bane verkeer wat vasgeval sit.

..en hier het Johannes se sel opgebreek en bly vrae soos die hieronder, vir altyd onbeantwoord: .Is die tyd vir protes aanteken verby?/ Liedjies op Die Ander Kant – sangers sing nie graag oor hulleself nie, dit is soms te persoonlik maar jy sing oor jouself in Die sirkusdier byvoorbeeld? / Streef jy ‘n klaslose klank op Die Ander Kant? Met Ge-Trans-for-Meer het jy in jou eie woorde begin om digitale ateljee-tegnieke te gebruik om ‘n klank te skep wat hypersophisticated en very late nineties is? / Van wie sing jy (rêrig) in Dis net jy..?

dis nog net jy waarin ek glo
alleen net jy, gee my nog hoop
dis nog net jy, waarvan ek droom

dis net jy – jy maak my hoog
dis net jy dis soos dit hoort
alleen net jy,
jy’s al wat nog bly

(uit: Dis net jy)

Of die onderhoud nuwe lig werp op Johannes Kerkorrel as mens en kunstenaar, is te betwyfel maar dit het intense genot verskaf om (weer) daarna te luister en my gevoel van selfbeheptheid te bevredig.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar