Nou moet mens darem regtig ‘n rugby-CD in die hande kry, as jy nog nie ‘n paar aangeskaf het nie. Daar’s ‘n groot verskeidenheid beskikbaar, maar een wat bietjie verskil van die ander, is Yebo se lekker Rugbyjol.
Daar is ‘n paar lekker dans-, saamsing en tekeregaannommers op, soos die bekende Yebo Gogo-man se “In Afrika” is daar ‘n span, die Blarney Brothers se “The Springboks have no fear”, Ballyhoo se “Olé Springboks” en die Lente-oes Boereorkes, wat Worsie Visser se “Boesmanland” gebruik om by “Bokkespan van onse land” uit te kom.
Maar dan’s daar ook ‘n paar snitte wat wegbeweeg van die tradisionele rugbyliedjie en amper na hoge kuns wil neig. Koos Kombuis se “Boklied” raak byna-byna filosofies, Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock doen interessante dinge met “‘n Lament vir die Game”, gebaseer op bekende wysies soos “Hasie”, en Cut Glass pas hulle kenmerkende styl toe op tradisionele liedjies in “Amabhoko Keurspel”.
Francois Hayes se “B.O.K.K.E” wil ook in mens se kop bly vassteek en laataand sal ‘n hele paar mense op die Rugbyjol seker saam Bokke wil uitspel. Maar daar is ongelukkig ook ‘n paar nommers op die cd wat miskien liefs moes gebly het, of nog werk nodig het.
Maar nou ja, wie is lus vir krities wees as die Kasteeltjies en die Klippies gepraat het? En om in die koue daglig daarna te luister is heeltemal ‘n ander ding as voor of na ‘n wedstryd as die gees hoog loop.
Yebo se lekker Rugbyjol is anders, en wie weet, dalk word ‘n paar van die nommers daarop nog treffers met die naderkom van die Wêreldbeker eindstryd.