Samestellings sal altyd gewild wees – veral as dit professioneel saamgestelde, interessant verwerkte materiaal bevat. Dit is die geval met dié cd en kasset waarvoor Decibel en EMI Musiek verantwoordelik is.
Wie is ons gewildste sangeresse? Volgens dié samestelling is dit Rina Hugo, Patricia Lewis, Sonja Herholdt, Johanna Field, Annelie van Rooyen, Marie du Toit, Arina de Witt, Amanda Luyt, Carike Keuzenkamp, Janita Claassen, Musical Dolls, Karin Hougaardt, Freda Francis, Min Shaw, Sarina, Amanda Strydom, Lieze Stassen en Cora Marie.
En uit dié lys is dit duidelik dat daar ‘n verskeidenheid nommertjies op die album is – maar die liefde bly die tema.
Daar’s ou gunstelinge soos “Ek verlang na jou”, “Silwermaan” en “My blonde visserman”, oorspronklike werk wat die sangeresse self geskryf het, soos Amanda Strydom se “Ek loop die pad”en Lieze Stassen se “Thula” en verwerkings van bekende deuntjies, soos Patricia Lewis se “Jy’s die rede”
As jy in ‘n sentimentele bui is en lus is vir lekker-luister nommertjies is Stemme vir Altyd ‘n goeie keuse.