Musical Dolls

Boet Pretorius het al vele edelstene in die musiekbedryf ontgin en sodra jy die Musical Dolls hoor sing sal jy saamstem dat ons land twee diamante hier beet het. Hulle klink volgens hulle platemaatskappy soos ‘n Suid-Afrikaanse mengsel van Abba en Ace of Base. Hulle is jonk, energiek, baie talentvol en sing die land aan die brand met hul ritmiese, hedendaagse liedjies wat maklik op die oor val.

Die Musical Dolls bestaan uit die 16-jarige Christia van Niekerk en haar 15-jarige sussie, Martelize. Moenie jou blind staar teen die feit dat dié twee poppe nog albei op hoërskool is nie – hulle musiek is net so gewild onder ‘n meer volwasse gehoor as onder die jongklomp.

“Ons het ‘n gaping in die mark gesien om spesifiek vir ons tieners musiek te maak waarmee hulle kan identifiseer. Daar is soveel jong kunstenaars in die buiteland wat sukses behaal het, so waarom kan ons nie ons eie jong sterre hê nie?” sê Boet Pretorius. “En wie verstaan nou tieners se musieksmaak en -behoeftes beter as tieners self? Dís waarom die Musical Dolls ‘n wenresep is.”

So jonk soos hulle is, het die Musical Dolls ook al ‘n pad in die musiekbedryf gestap. Op die ouderdom van 10 en 11 jaar het hulle reeds hul eerste CD It’s a Beautiful Life vrygestel en in 1998 is hulle album Smile uitgereik. G’n wonder dat musiekmaak vir dié twee so natuurlik soos asemhaal is nie!

Hulle was Januarie vanjaar gaskunstenaars op die televisieprogram Noot vir Noot en die reaksie van die publiek was oorweldigend. Sedertdien is hul musiekvideo, Smile, ook gereeld op KykNet se DKNT-musiekprogram uitgesaai.

Die twee sussies het al Suid-Afrika en Namibië platgetoer en die aanvraag na hulle optredes word steeds groter. Sedert Januarie vanjaar het hulle meer as 250 vertonings gedoen!

Die album bevat 13 superopwindende snitte en Christia en Martelize het self twee van die liedjies geskryf. Dit is ‘n mengsel van hedendaagse Afrikaanse en Engelse popmusiek en hier en daar selfs ‘n bittersoet ballade.

Boonop is daar ook twee bonussnitte op die album. Hul 8-jarige sussie, Li-Ry, sing self ook in die liedjie “I’m a Big Big Girl” saam met hulle.

Die Musical Dolls is twee jong sterre van Bellville wat die land aan die brand gaan sing. Hou hulle gerus maar dop, hulle gaan nog helder skyn!

Koop/Buy The Musical Dolls

Lewer kommentaar

Leave a Reply