Wrongfully Accused

Verskeie gewilde rolprente en rolprenthelde sal hulleself beslis nie meer ernstig kan opneem nadat Leslie Nielsen en sy travante hulle beetgekry het nie.

In Wrongfully Accused speel Nielsen die rol van ´n super-held, Ryan Harrison, met al die karaktertrekke van mense soos Harrison Ford, Humphrey Bogart, Tom Cruise en selfs Jimmy Hendrix. Hy is een van die wêreld se grootste violiste wat ´n voortvlugtende word deur ´n vreemde sameloop van omstandighede.

Daar sluip ´n man met net een arm, een been en een oog rond wat verantwoordelik is vir die moord waarvoor Ryan die skuld kry en met net een leidraad sal hy sy onskuld kan bewys.

Die wortel van die kwaad is natuurlik ´n beeldskone verleidster (Kelly Le Brock) wat voorgee dat Ryan verantwoordelik is vir die moord op haar man (Michael York) en, net om dinge interessant te maak, is daar boonop ´n sameswering om die Sekretaris-Generaal van die Verenigde Nasies te vermoor. Maar dis nie al nie – ´n maniese, kruppel terroris is ook nog op Ryan se spoor.

Voor hy hom kan draai, word Ryan in hegtenis geneem, verhoor en ter dood veroordeel – en nie sommer so nie. Hy moet in die elektriese stoel sterf en ´n dodelike inspuiting en ´n vuurpeloton moet seker maak dat hy nie oorleef nie. Gelukkig gly die bus waarin hy vervoer word op ´n piesangskil.

Die enigste een wat glo dat Ryan onskuldig is, is Cass Lake (Melinda McGraw) wat op hom verlief geraak het toe sy hom die eerste keer gehoor viool speel het. Maar het sy hom regtig lief, of is daar nog ´n versteekte agenda?

Laf, lawwer, lafste, maar Wrongfully Accused lyk na slim vakansievermaak.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar