You’ve Got Mail

Miskien is daardie persoon by wie jy vandag in die straat verby geloop het, die groot liefde in jou lewe! In die era van e-pos is liefde anders, soos die span van Sleepless in Seattle ontdek wanneer hulle weer saamspan vir You’ve Got Mail.

In You’ve Got Mail span regisseur Nora Ephron saam met Tom Hanks en Meg Ryan, wat almal saamgewerk het aan die 1993 treffer, Sleepless in Seattle. Hulle jongste poging is gebasseer op Ernest Lubitsch se klassieke verhaal uit 1940, The Shop Around the Corner, maar dié keer speel die romantiese komedie af in die e-pos-era.

Kathleen Kelly (Ryan) het ´n klein kinderboekwinkel in New York. Sy het dit van haar ma ge-erf en dis 40 jaar lank al ´n bekende gesig in die omgewing. Ongelukkig besluit ´n kettinggroep om ´n tak van die super-boekwinkel, Foxbooks, net ´n paar blokke van haar boekwinkeltjie af oop te maak.

Joe Fox (Hanks) is ´n direkteur van die firma en dis sy werk om die nuwe tak aan die gang te kry. Natuurlik verfoei Kathleen, wie se bestaan bedreig word deur die nuwe ontwikkeling, Joe en alles waar voor hy staan. Albei van hulle het ook ander mense in hulle lewens en hulle glo dat hulle heel gelukkig met hulle ander helftes is.

Dan ontmoet Kathleen en Joe mekaar op die internet deur ´n geselsgroep – heeltemal anoniem, natuurlik – en gou ontwikkel hulle elektroniese vriendskap in ´n openhartige verhouding, sonder dat die een weet wie die ander een is.

Kathleen (of Shopgirl soos sy op die internet bekend staan) deel haar vrese oor die groot nuwe winkel met Joe (oftewel NY152) en so vind hy uit dat hy verlief is op iemand wat hom nie kan verdra nie. Hoe gaan hy nou die waarheid by haar uitkry sonder om haar te verloor?

Die hele gesin, en veral verliefdes en verloofdes, behoort veel plesier te hê aan dié moderne liefdesverhaal. En wie weet, as You’ve Got Mail vir Kathleen en Joe gewerk het, het ons almal mos ´n kans!

Koop You’ve got mail

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar