Is daar ‘n mooier lied in Afrikaans as Johannes Kerkorrel se verwerking van “Al lê die berge nog so blou”? Daaroor sal daar lank gestry kan word, maar dié snit sal sekerlik onder die eerste tien mees aangrypendes moet tel. Johannes maak lankal opslae, hoewel hy deesdae met die ouer word saam en die formele verdwyning van apartheid blykbaar heelwat kalmeer het. Maar hy bly ‘n digter en ‘n musikant wat vroeg al besluit het dat hy eenvoudig nie kan stilbly nie, dat hy homself moet wees met alles wat dit inhou en dat hy sy skerp satiriese tong en pen sou gebruik om die onaantasbare owerhede aan te vat en Afrikaners uit hulle indoktrinasie-waan wakker te probeer skud.
Tien jaar later kan seker as ‘n soort Beste van-album beskou word, want Kerkorrel is al by die 15 jaar aan die gang. Van 1986 af, toe hy nog joernalis was, het hy opslae gemaak met sy satiriese, politieke kabaret by die Green Room in Kaapstad – in die dae toe mens nog opgesluit kon word vir jou menings. Toe al het hy meeste Calviniste na hulle asems laat snak met sy “Wat ‘n vriend het ons in PW”, wat ook op dié album ingesluit is.
Daarna het sy opvoering “Piekniek by Dingaan”, met die subtitel “Kinders van Verwoerd”, die Kunsteraadbase geruk toe Afrikaanse woorde en gedagtes wat nog nooit vantevore van verhoë af gehoor is nie Afrikaans help bevry het. Saam met André Letoit, oftewel Koos Kombuis, en ‘n groep musikante is die Gereformeerde Blues Band gestig en duisende studente en andere het na die Voëlvry-toer se vertoning gestroom. Dit was die dae.
Kerkorrel is nie net hier bekend nie. Hy het ‘n groot gevolg in België en Nederland, waar hy al dikwels opgetree het.
Meeste van die Kerkorreltreffers is op Tien jaar later – “Sit dit af”, “Hillbrow”, “BMW”, “Halala Afrika”, “Daar is geen”, “Onder in my whiskyglas”, “Al lê die berge”, “Wat ‘n vriend” en “River of Love’. As mens Piekniek by Dingaan of Voëlvry beleef het sal dit interessante herinneringe terugbring, en as jy nie het nie sal jy nogtans plesier kry uit Kerkorrel se uniekheid.