Die dinge waarmee jy grootgeword het bly jou by – veral as ‘n mier, ‘n krokodil, ‘n olifant en ‘n lappop iets daarmee te doen het. En dis ‘n lekker verrassing as jy vandag se kleintjies hoor sing aan die dinge wat vir jou plesier verskaf het, al is dit verskeie dekades later. Praat van die toets van die jare deurstaan!
Baie van ons wat so veertig jaar gelede in Afrikaanse huise grootgeword het, het seker grootoog voor die platespeler of die radio in die wêreld van die Eskimo gekuier, met die langspeler Sal jy dit glo? op die draaitafel. En hier’s hy nou, nog met sy oorspronklike klanke, opgetooi op ‘n CD. Mens sou dink dat Doris Brasch en Dawie Couzyn se styl te “opera-agtig” vir vandag se kleintjies sou wees, maar moenie glo nie. Hulle verkneukel hulle nog net soos ons aan die hartseer storie van die lappop, wat darem maatjies kry, en die mier wat hom morsdood werk.
Miskien is dit Dan Hill en sy orkes se slim verwerkings wat sorg dat die klank byderwets en sjarmant bly, maar mens vermoed dat Betty Mitsheiker, wat al 24 die liedjies geskryf het, die meeste krediet moet kry. Sulke slim, eenvoudige woorde loop mens nie elke dag raak nie. Vat nou maar ‘Almal dra ‘n jas’: “Die kwagga is deftig in swart en wit / Bobbejaan se ou jas is al flenters gesit / Mooi knopies van rooi op die jas van kalkoen / Die slang s’n is nuut vir die somerseisoen.” Dis mos nou diep lekkerkry.
Daar’s ‘n paar liedjies op die CD wat mens nie herken nie, soos “Buite in die maanlig”, “Wiegeliedjie”, “Twee klein voëltjies” en “Gert Kameelperd” (Van kop tot sy stertjie is Gert Kameelperdjie, vreeslik, vreeslik skaam), maar daardie heerlike ou langspeelplate het seker nie so baie plek soos ‘n CD gehad nie. Hulle was ten minste baie, baie goedkoper! Of dalk kom dié liedjies van die Tingeling-langspeelplaat af, want daardie geliefde “Sal jy dit glo?”-langspeler ken mens steeds uit jou kop uit. En miskien sal die kleintjies verby ‘n snit soos Totsiens en vaarwel wil spoel, want dis bietjie swaar. Maar hulle is in elk geval so tuis met cd-spelers en bandmasjiene dat hulle dit waarskynlik sommer self sal doen.
As daar ‘n klein mensie van so tussen twee en tien in jou lewe is, sal “Sal jy dit glo/Tingeling” ‘n treffer-persent wees. En dit sal die kilometers laat verbyvlieg op daardie lang, vervelige ritte. Veral in die Wildtuin sal “Die Vlakvark”, “Loekoe die Leeutjie”, “Die Krokodil” en “Die Olifant” sorg dat Boet en Sus die bakleiery vir ‘n rukkie los. En kyk maar, Ma en Pa sal saamsing nie kan weerstaan nie.