Dixons is die tweede album van hierdie op-en-wakker dansorkes van Potchefstroom. Die Dixon Dansorkes se debuutalbum Kuiertyd is in 1998 uitgereik en het die dansvoete behoorlik gekielie.
Die tweede album beloof om ook ‘n groot aanwins by enige dansparty te wees – of dit nou ‘n langarmdans of ‘n bokjol-makietie is. Die Dixons se nuwe dansalbum spog met nie minder nie as twintig nommers (wat ‘n paar keurspele insluit) en ‘n hele paar vuurwarm treffers soos “Ska Rumba” en “You’re My Mate”.
Dit is dansmusiek uit die boonste rakke – met daardie kenmerkende boeremusiek-klank. Ander treffers sluit in “Hartbeesfontein”, “Ou Ryperd”, “Lekker Ou Jan”, “Liewe Lulu”, “Midnight Special” en “Sha-la-la-la”.
Keurspele soos “Kitaarkeurspel”, “Walskeurspel”, sowel as die Klawerbord- en Mondfluitjiekeurspel gee die album nog meer woema. En dan is daar ook ‘n ritmiese “Umfaankeurspel” met liedjies soos “Umfaan” en “Meadowlands” wat niemand gaan toelaat om stil te sit nie.
Die Dixon Dansorkes bestaan uit vyf lede – Hennie le Roux (ritmekitaar en sang), Charmaine le Roux (baskitaar), Steyn Ludick (konsertina, leierkitaar en bekfluitjie), Koerie Laubscher (klawerbord) en Hansie du Toit (dromme).