The Buckfever Underground bestaan uit twee pêlle van Rhodes Universiteit in Grahamstad en Jou Medemens is Dood is hulle debuut-CD.
Daar’s net ses snitte op die album en hulle styl word beskryf as eklekties, afwykend en besig. Hulle is nie veel gepla oor suiwer Afrikaans (of Engels) nie – daar’s ‘n bietjie van beide – en hulle leuse is Bier en Vryheid. In gesproke monoloë oor akoestiese en elektriese kitaar, kyk hulle na apatie, die lewe in Suid-Afrika en die vreesaanjaende dinge wat in hulle koppe aangaan.
Die stem behoort aan Toast Coetzer, ‘n vryskut-joernalis en selferkende anti-musikus. Hy werk ook met die bandopnemer en ander vreemde voorwerpe. Improvisasie is waaroor dit hier gaan en die grondslag daarvoor is hulle weiering om te konformeer en hulle onvermoë om dit te doen.
Die musiek is oor die algemeen wat bekend staan as kunsskoolmusiek, behalwe dat The Underground hulleself nie so ernstig opneem nie. As daar een ding is wat hulle goed doen, is dit om hulleself op te stuur. Diegene wat in Desember hulle TV-debuut op die Afrikaanse betaalkanaal Kyk-Net gesien het, sal daarvan kan getuig.
Janus Musiek het besluit om vir hulle ‘n kontrak te gee nadat hulle ‘n nasionale Afrikaanse liedjiekompetisie gewen het en dis duidelik dat The Underground ‘n a-tipiese groep is wat musiek maak omdat dit vir hulle lekker is, al sal hulle die gemiddelde musiekonderwyser ‘n hartaanval gee met hulle tegniek en kennis.
Jou Medemens is Dood is ‘n vreemde kombinasie van rap, folk en, nou-ja, wat nou ookal nog nodig is om te verseker dat hulle nooit ‘n reuse kommersiële sukses sal wees nie. En daarmee het hulle nie ‘n probleem nie, want al wat hulle nodig het is bier en vryheid. As jy die omslag versigtig lees, sal jy uitvind waarvan hulle nou eintlik so graag vry wil wees, en miskien sluit jy by die rewolusie aan.
The Underground tree so af en toe saam met verskeie gaslede op op verskeie plekke in die land. Hou jou oë oop en miskien sien jy iets heeltemal buitengewoon op die musiekverhoog.