Tino is ‘n talentvolle sanger en liedjieskrywer bekend vir sy emosioneel-gelaaide musiek en opregte lirieke. Hy het ‘n passie vir musiek wat diepgaande menslike ervarings en emosies vasvang, en hy streef daarna om met elke liedjie ‘n blywende indruk te maak. Dit word duidelik uitgebeeld in sy nuutste enkelsnit “Vir Jou, Oor Jou”.

Volgens Tino kan “Vir Jou, Oor Jou” beslis as ‘n liefdeslied beskryf word. Hierdie snit is geskryf uit een van sy persoonlike ervarings, maar kan beslis beskryf word as ‘n liedjie vir almal. Almal wat al verlief was, sal kan aanklank vind by hierdie lied. Dit vang die emosies vas wat almal al minstens een keer in hul lewens ervaar het.

Hy het aan die begin van Januarie begin skryf aan “Vir Jou, Oor Jou”. Die inspirasie het gekom van sy omgewing en die mense wat hy om hom bevind het. Hy het met ‘n melodie begin en van daar af het die lirieke uit hom uit gestort. Hierdie lied het ‘n baie diep betekenis vir hom, omdat dit uit ‘n plek van verliefdheid en omgee geskryf is vir iemand baie na aan sy hart was in daardie tyd.

Met hierdie liedjie wil hy graag die boodskap oordra dat mense in die lewe moet gaan vir wat hulle wil hê. Hy moedig mense aan om kanse te vat, veral wanneer dit by liefde kom. Hy glo dat jy die moed moet hê om te sê wat jy voel en nie toelaat dat vrees jou terughou nie.

Tino hoop dat “Vir Jou, Oor Jou” luisteraars sal inspireer om hul gevoelens eerlik te deel en die sprong te waag wanneer dit by liefde kom. Hierdie “Vir Jou, Oor Jou” is ‘n herinnering daaraan dat die mooiste ervarings dikwels kom wanneer mense hul harte oopmaak en hul drome najaag.

Vir jou, oor jou – Tino

Lewer kommentaar

Leave a Reply