Die groot man met die kort naam en die baie lang van is uiteindelik te sien in sy debuut-eenmanvertoning. Stand-up wat nuut, skerp, snydend en bowenal al snaaks is. En indien dit teen hierdie tyd nog nie duidelik is nie: Dis ook eenhonderd persent Afrikaans.
Na tien jaar in die vermaaklikheidsbedryf (eers agter ‘n lessenaar, toe agter ‘n kamera en nou agter die mikrofoon) het Melt Sieberhagen ‘n paar dinge om van sy skouers af te kry. Die dinge wat hy gesien, gedoen, gehoor en gevrees het moet uitkom en ‘n professionele terapeut is duur. En selfs gekwalifiseerde kopdokters sal die helfte nie glo nie.
Hoe beland ‘n skoongesig seun van Ventersdorp in die wilde en wrede televisiewêreld? Wat besiel ‘n ordentlike Afrikaanse outjie om aand na aand die verhoog te bestyg en vir mense te vertel van die vreemde en vermaaklike draaie van die pad wat hom daar gekry het? Hoekom is hy ‘n kompulsiewe proefleser, ongeduldige verbruiker, genadelose kritikus en sporadiese vryheidsvegter?
100% Volroom Melt is binnekort by ‘n teater naby jou.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

