deur: Albert Maritz
Albert Maritz – toneelimpresario en regisseur van die onlangs bekroonde Faan se Trein, deel sy herinneringe en indrukke van Johannes Kerkorrel.
Maritz het vroeëer jare konsertoptredes vir Kerkorrel gereël.
“… ek onthou sy regop dominees-handjies-bymekaar ‘pose'”
Ons eerste gesprek was toe hy op Arende se stel was saam met ‘n groep joernaliste – as joernalis. Maar hy was ‘n tydgenoot en ek het ‘n kort gesprek met hom gevoer, en geniet. Dis seker maar die generasie golflengte, maar ek onthou hy en André le Roux du Toit wat in die Black Sun my verdoofde sinne aanraak met bevryding; met die gevoel van “jy’s nie alleen nie”. Toe het ek die sinistiese klank in sy stem opgetel. ‘n Klank van “Gods water oor Gods akker loop”.
Maar dit was maar net ‘n klank. Hy was tog nie so gelate nie … ? Toe ek hom baie jare later bel en vra of hy by Melkbos sal optree was dit die eerste tree na ‘n werksverhouding wat oor 5 toere en ons pogings om ‘n sesde – vernuwende een te doen, sou strek.
Ek vra hom wat hy genoem wil wees … om die ooglopende rede … En hy antwoord met die siniese, sonore, sangerige, amper fluisterstem, amper uit ‘n hoogte – wat sy gereelde kollegas, universiteitsmaats, vriende en familie seker kan verklaar: Noem my graag Ralph, as jy die Noorse (of het hy gesê Sweedse?) uitspraak kan regkry, die sagte klank – die “f”.
Maar sy stem was die dag, en sedertdien, baie meer die tentatiewe, sagte, effentjies en fyntrap klank as wat ek onthou van toe hy in Piekniek by Dingaan op Grahamstad gespeel het. Toe ek hom in die koshuis waar KRUIK tuis was, in die verbygaan hoor vis het na wat ek van hom dink. Dit het geklink of hy gesteld was oor wat mense van hom dink.
Dit het gelyk asof mens se werksverhouding met hom tentatief was, totdat sy metgesel, wat stil uit die stiltes van hul woonstel sou oprys, op sy stil, Oosterse manier, sy goedkeuring sou gee. Geperkoleerde koffie uit die silwer keteltjie, ‘n gesprek wat hoogs ontspanne raak, en die ondertekening van die kontrak vir ons voortgesette werk.
Ek is ewe sensitief daarvoor en was senuwee-agtig daaroor – vir kontraksluiting. Ek is eers daar weg sonder dat ek dit eers gewys het, want – op watter soort agterdog dui dit as iemand moet teken dat hy sal doen wat hy moet doen?!
Ek moes omdraai en teruggaan en die gemoedsrus kry van die handtekening – toe hy, of Dmitri, ek kan nie onthou nie, weer die deur oopmaak, en my binne wuif en Johannes gretig die kontrak teken. Ek sou later by iemand hoor – Ralph hóù van kontrakte.
Sy optrede by die Melkbos venue was ‘n reuse sukses. ‘n See-landskap met ‘n visnet vir ‘n kleedkamergordyn – waarom hy loer en as hy terugdraai amper prewel hoe vol dit is. Waar hy in skakeringe van wit en blou lig – soms, net soms rooi en ander kleure … ‘n ervaring optower, en selfs einde ten laaste die dronk eks-redakteur van ‘n streekskoerant stilmaak met ‘n gemaak streng kwinkslag. Die ou het uiteindelik met sy kop op Randall Wicomb se skoot aan die slaap geraak … en wou my ‘interview’ na ek hom later op die privaat gaan sitmaak het buite … die joernalistiek in sy bloed … !
Die volgende toer was ‘n wintertoer – weer het die mense gestroom om na hom te kyk – selfs by die koue semi-buitelug venue by Melkbos. Sy ‘statement’ liedjies dié wat die meeste impak had.
Snaaks ek onthou sy regop dominees-handjies-bymekaar ‘pose’ agter in die kluis kleedkamer by die Independent Armchair Theatre in Observatory, waar sy klank-en beligtingsspan vir ‘n redelike tyd die toekoms in, geleer het van sy liefde vir harde ‘backing’ en die wulpse samespel van ligte …
Die hande wat met gesag magtig word wanneer dit oor die klawerbord werk. Die vertikaal sliertende beeld van reën wat hy – soos niemand anders sedertdien, met sy hande optower in sy protesliedjie. Die liedjie wat Gods reën nooi om skoon te was op ‘n donker besoedelde plek aan die verkeerde kant van die maan … Gedryf deur die passie waarin sy oortuiging gebore is …
Sy shows was gewild. Johannes was die restaurant-dier se Nataniël. Sy verbasing op die goeie sale (teaterrestaurant ruimtes dwarsoor die Kaapse platteland) – selfs in die winter. Hannelie (eienares van twee restaurante op Swellendam – later vermoor) wat sê – sy kon drie aande volgemaak het! “Mense het gery van oral af – selfs Breyten Breytenbach was hier”. Dit was nog die Insig-toer.
Op een plek teen die Weskus sluit die opportunis restaurant-bestuurder sommer met hom ‘n deal – hule reël ‘n ekstra show self. Maar die reëlings loop skeef, en die restauranteur se plan boemerang. En ek ontvang die middernag oproep. Later – is dit Ralph wat vir my in hul woonstel sê: Ek is jammer. Ek sal nie dit weer laat gebeur nie.
Gedurende een toer betaal hy vir my ‘n oneweredige bedrag – sommer as bonus, in my rekening. Elders, in die Oos-Kaap, op toer vir iemand anders, bel hy en vra toestemming om die mediavrystelling wat ek saamgestel het, daar vir die media te gebruik. Eenvoud. Respek.
Ek kry hom op Aardklop nog in die gym. Vergader later. Om iets nuuts te probeer. Los dit en sien hom vir jare nie.
Onlangs werk ek saam met ‘n hele handvol van sy universiteitsmaats, en ek vra hulle wat die verklaring sou wees – waar hy sy naam onderaan ‘n boodskappie op die cd cover geteken het; na afloop van een toer; dat hy sy naam verkeerd gespel het.
Schoonie se antwoord was seker die sleutel – dat hy met sy tipiese sin vir die oomblik seker iets wou sê daardeur. Wat later sin gemaak het toe ek onthou van ons gesprek oor die sagte “f” in die korrekte uitspraak van sy naam.