Dowwe Dolla: Net ´n Plaasmeisie van Pniel

Na 2 jaar maak Dolla ´n comeback. Verskeie kere. Lollie in die mond en tong in die kies. Nadat sy haar droom verwesenlik het om ´n Oscar te wen vir haar spel in Monster, ´n fliek oor die wrede reeksmoordenaar Manto Tshabalala-Msimang, is Dolla terug om alles weer reg te ruk, of te pluk, wat dit ookal verg.

Dolla gaan maak ´n draai in haar geboortedorp, Pniel, en deel al die skinner van haar vriendskappe met al die famous mense, van Brad tot by Jennifer en Bush. Sy verduidelik ook haar plan om Suid-Afrika skoon te maak deur al die negatiewe invloed in Dolla se Kamp Staaldraadgat te gooi. En dan leer Dolla die gehoor van haar splinternuwe passie: sokker. Hoe werk die game? Hoekom kan spelers die balle met hulle koppe kap – en is dit nie baie seer nie? Waar sit jou vuvuzela en hoe blaas jy dit?

Met splinternuwe uitrustings, gehoor-interaksie, lyne en liedjies doen Dolla wat sy beste doen: sy laat die gehoor vir 70 minute skater. Die slim blonde agter die stadige blonde is Margit Meyer-Rödenbeck, wat reeds bekroon is met ´ FNB Vita toekenning vir haar briljante komiese vertolking van hierdie stuitige karakter. Hoewel Dolla niks goed te sê het oor Margit nie, het Margit ´n sagte plekkie in haar hart vir die bitsige blonde. Margit het onlangs reeds haar Meestersgraad in Drama verwerf aan die Universiteit van Stellenbosch. Wanneer sy nie by Dolla kuier nie, is sy besig met radiowerk, kinderteater en vervaardiging. Sy het ook onlangs haar meer ernstige kant gewys in die twee feestreffers Jong Dames Dinamiet (saam met Marion Holm) en K (met Trix Pienaar).

Die man wat die woorde in die blonde bom se stokkielekkermond sit, is Hennie van Greunen, wat ook bekend is vir sy tekste en/of regie van produksies soos Blougat, Junkiedrome, Lyf, Wydekloof, Die Hangkas Haas, Jong Dames Dinamiet, Op die vrou af en K.

Lewer kommentaar

Leave a Reply