Dié woordkunsprogram beloof om Afrikaans in haar volle glorie te wys en waarborg om taalpuriste aan hul suiwer woorde te laat stik. Die verhaal word vertel van drie uiteenlopende karakters wat besin oor die moontlikheid om ´n produksie saam te stel waarmee hulle op toer wil gaan. In die interaksie met mekaar word die program saamgestel sonder dat die karakters daarvan bewus is.
Die voordrag uit veral Hans du Plessis se Griekwa Psalms, die werk van Adam Small en Peter Snyders en ander digters raak ´n hele aantal kwessies aan soos die gewaande eiendomlikheid van Afrikaans, die stigmatisering van die verskillende tongvalle van die taal, die kampvegters vir Afrikaans wat nie Afrikaanse boeke koop nie en mense wat kunstefeeste gebruik as> ´n geleentheid om in biertente te kuier.
Die program word afgewissel met lekker loslit Afrikaanse liedjies, waarvan die meeste vir die produksie geskryf is. Daar is selfs ´n heerlike saamsingliedjie waarmee die gehoor ook betrek word.
Die akteurs is Elias P. Nel, skrywer en storieverteller, Willem Fransman, skrywer, dramaturg en storieverteller en Joey Erasmus, bekende in gemeenskapsteater, leier van ´n gospelsanggroep en ´n akteur met optredes in televisiedramas.