Die toneelspeler wat beweeg – nie heeltemal soos ‘n danser nie en ook nie soos die romantiese witgesig mimiek-kunstenaar nie – is ‘n verskynsel waarvan die wortels in antieke tye lê en deesdae in ons moderne tyd weer meer en meer op drama-verhoë en by kunstefeeste figureer. Etienne Decroux, die vader van moderne mimiek, word veral erken vir sy navorsing op hierdie gebied, maar daar is ook baie ander spelers wie se lewens passievol aan hierdie kunsvorm verbind word.
Pieter van Zyl het ‘mime corporel’ in Londen, Parys en Amerika studeer en daarna teruggekom na Suid Afrika. In Early works – a love story praat hy oor sy eie persoonlike reis met ‘n kunsvorm wat dikwels verkeerd verstaan word. Hy voer ook van sy eie bewegings-komposisies uit wat gebaseer is op die ‘mime corporel’-tegniek. Die produksie is ‘n uur lank en het ‘n gemaklike verhaaltrant. Pieter is genooi om Early works – a love story in 2014 in Amerika aan te bied.
Klein Libertas-teater in Stellenbosch
24 Oktober
Tyd: 20h15
Kaartjies: R100
