Ek’s Anoniem, ek sê!

Toe Ian Wessels in Julie 2011 sy eerste humoristiese eenmanvertoning, Loslippig, op die planke gebring het, wou hy net so 20 vertonings doen – net genoeg om op sy bucket list te kan afmerk hy was wel op die verhoog met sy eie stuk. Met haar groter wysheid en insig het sy regisseur, die ervare komediant Margit Meyer-Rödenbeck, voorspel as hy nie téén die planke is voor sy 10de vertoning nie, gaan hy nog lank daarna óp die planke bly.

Sy was reg. Na talle optredes landwyd die afgelope jaar, insluitende vier uitverkoopte vertonings op Oudtshoorn nog voor die KKNK begin het, het die toneelgogga Ian behoorlik aan sy krulhare beet. “Daar is min dinge so lekker soos om ‘n gehoor te laat lag en vir ‘n rukkie van hulle sorge te laat vergeet. Loslippig was vir my ewe terapeuties en mense het al hoe meer begin vra wanneer hulle kan bespreek vir my volgende vertoning. Die antwoord is nou.”

As aanbieder van Loslip, weeksdae 14h00 op RSG, ondervind Ian Wessels daagliks dat mense nogal geneig is om effens anders te reageer as hulle anoniem kan bly. Dit het hom laat wonder oor verskeie alledaagse situasies waar ons soms, ten spyte van erge provokasie, maar op ons tande byt en hoflik reageer. Sê nou ons kon elders ook agter die sluier van anonimiteit skuil, behalwe op die radio?

In sy nuwe humoristiese eenmanvertoning, Ek’s Anoniem, ek sê! steek Ian hand in eie boesem en vat Anoniem se spoor. As deskundige stel hy ‘n sielkundige profiel van dié ontwykende kalant saam. Op elke misdaadtoneel is die verdagte mos aanvanklik anoniem, so ‘n mens weet nooit wanneer Piet Byleveld dalk die Anoniem Dossier aanvra nie …

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes [by] roekeloos.co.za)

Teks: Ian Wessels
Regie: Margit Meyer-Rödenbeck
Tydsduur: 60 minute

Geskik vir die hele gesin.

Ou Meulteater, Paarl
24 November
Kaartjies: R90
Besprekings: 083 564 00 56 / Vicky@oumeulteater.co.za

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar