… is die muis baas?

… is die muis baas? is die opvolg op die gewilde As die kat weg is en open op 6 Februarie 2006 by die West End Theatre in Pretoria. (Die West End Theatre is op die skougronde in Soutterstraat).

… is die muis baas? is losweg gebaseer op die Britse stuk – Fringe Benefits – wat geskryf is deur Peter Yeldham en Donald Churchill. Pierre van Pletzen het die vertaling waargeneem en is ook die regisseur van die stuk.

Die nimlike Pieterses is terug, maar dié keer is daar heelwat interessante verwikkelinge. En dit maak .is die muis baas? veel prettiger as sy voorganger.

Waar die vroue van die twee mans in die verlede hul mans uitgevang het, is die bordjies verhang. Hulle het ook ‘n plan of twee in die mou. Die vurige Marie (Isadora Verwey) en haar bleeksiel Neels (David Clatworthy) pas nou huis op in welgestelde Waterkloof. Met ‘n toegeruste kroeg, swembad en afstandbeheerde gordyne is dit ‘n ervaring opsigself. Daarby word daar kliphard beplan aan ‘n groot vakansie saam met haar suster, Louise (Rika Sennett), en dié se man, Sarel, op Margate.

Sarel (James Borthwick) is sy ou self. Sy oog is nog rats vir ‘n mooi vrou en sy mislukte eskapades met Jennifer (Christelle van der Berg) knaag aan hom. Miskien moet hy weer probeer. Die grootste verrassing is Neels wat op soek is na iets anders as ”sousbone”. En ‘n bleeksiel wat wil vry, is ‘n snaakse verskynsel, veral as Suzie (Anneri Wessels) die enigste meisie is wat naby is.

Tipies klug, is . is die muis baas? die ene gekonkel. Fiasko volg natuurlik op fiasko, want elkeen beplan om sy dinge in dieselfde huis aan te vang, veral as daar ook nog ‘n loodgieter (Hannes Brummer) onverwags opdaag.

Maar is die muis baas as die kat weg is.?

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar