K

Toe Margit Meyer-Rödenbeck se ma in 2002 gediagnoseer is met kanker, het Margit en Hennie van Greunen besluit om ´n reis van twee vroue op die verhoog te sit, met die idee om ´n helende produksie daar te stel wat die sterwensproses demistifiseer. Die uiteinde: k

´n Splinternuwe Afrikaanse toneelstuk wat die lagspiere gaan oefen, en die traankliere gaan laat werk. Wanneer Karen (Margit) verlof moet neem by haar hoëprofiel advertensiemaatskappy in Johannesburg en vir drie weke moet terugtrek by haar ma, Karien (Trix Pienaar) in Bellville, kook die pot oor. Want sien, die ma is eksentriek en af, die dogter is konserwatief en streng en die flat in Bellville verteenwoordig alles waarvan sy probeer vlug het.

Wat maak mens as jou ma besluit om die hele muur van haar sitkamer te bekrap met lirieke? As sy ´n swembadbed op die eetkamertafel sit, want kankerpasiënte sterf meestal in hulle kamers? As sy ellelange gesprekke met die buurvrou voer, ´n vrou wat sy nog nooit ontmoet het nie? As jou ma haar prostetiese bors, met verstommende akkuraatheid gebruik as missiel? As sy droom van Morokko? As jy weet jou ma het net drie weke oor en sy wil besigheid klaarmaak, of jy nou wil of nie? As julle die begrafnis moet oefen, net sodat sy jou speech kan hoor?

Met humor en patos volg ons die pad van hierdie besondere twee vroue, paaie wat eers verby mekaar loop en later in een reguit pad in vloei.

k het sopas geopen by die 2004 Klein Karoo Nasionale Kunstefees met vol sale, staande ovasies en uitstekende resensies.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar