Kunstekaap, die Wes-Kaap se voorste teatersentrum, doen daadwerklik mee aan veeltaligheid met ´n Xhosa-toneelstuk in die hartjie van die plaaslike Xhosa-gemeenskap.
Vanjaar se aanbieding word in Langa opgevoer in samehang met die Stad Kaapstad, First Rand Bank, Maskew Miller Longman en die Golden Arrow-stigting. In hierdie vyfde jaar dat Kunstekaap ´n voorgeskrewe werk in Xhosa opvoer, gaan dit vir die eerste keer vir die publiek oop wees.
“Kunstekaap strewe aldeur na veeltaligheid en met hierdie produksie nooi ons Xhosa-sprekendes en mense wat in die Xhosa-taal en -kultuur belang stel, om in die opwinding van hierdie projek in Langa te kom deel,” sê Michael Maas, bestuurshoof van Kunstekaap.
Die voorgeskrewe werk vir graad 12-leerders in Xhosa, Nosil’eyibethile Akakayoye, speel vir nege dae by die Johnson Ngwevela-saal in Washingstonstraat, Langa.
Afgesien van die daaglikse opvoerings vir skole om 10:00 gaan daar drie aandopvoerings vir die publiek wees, op 19 Mei (die openingsaand), 22 en 29 Mei. Die kaartjies kos R20 en is te kry van Mike de Beer van Kunstekaap by Tel (021) 410-9934 of sellulêr (082) 760-1869.
Die stuk deur Ngcwelekazi T Gwegwe speel af in Oos-Kaapland, met jeugdige karakters wat die troebel emosies van grootword uitbeeld.
Sizwe Msutu, die regisseur, sê die verhaal gaan om liefde, bedrieëry en afguns.
Die drama is die verhaal van Nozibele wat in haar graad tien-jaar op skool van Sipho swanger raak. Sipho ontken sy aandadigheid en sê sy het verskeie seunsvriende gehad. Dit beteken die einde van Nozibele se skooldae. ´n Jong man, Zolani, kom tot haar redding. Hy kry werk vir haar en stuur haar terug skool-toe. In haar laaste studiejaar wend sy haar weer tot haar eerste liefde, Sipho. Toe Zolani dit ontdek, voel hy verraai en besluit om Nozibele te elimineer.
Die agtien spelers is almal van Kaapstad en die Boland, met bekendes soos Abbey Xakwe, Mzimasi Nongwe en Nomawabo Dyani in die hoofrolle.
“Hierdie soort aanbieding bevorder taalkennis, vul die onderwys aan en bou kulturele brûe,” sê Sticks Mdidimba, die ontwikkelingsbestuurder by Kunstekaap. “Ons vorige suksesse met voorgeskrewe werke bewys dat ons teatergangers beslis ´n behoefte aan sulke dramatiese opvoerings het.
“Vroeër vanjaar het ons Dalene Matthee se Kringe in ´n Bos met groot sukses vir die publiek oopgestel. Ons doen nou dieselfde met die Xhosa-stuk.
“Deur hierdie drama na die gemeenskap toe te neem, bevestig Kunstekaap sy strewe om goeie vermaak aan al die gemeenskappe van die provinsie aan te bied,” sê Mdidimba.
