Beskryf as “‘n juweel in die Afrikaanse literatuur.” Kanna Hy Kô Hystoe word steeds erken as een van die klassieke verhoogstukke in Afrikaans en is in die 1960’s geskryf deur befaamde digter, skrywer, filosoof en dramaturg Adam Small.
In hierdie toneelstuk van Small is die hoofkarakter, Kanna, die grootmaakkind van Makiet, ‘n arm bruin vrou uit die werkersklas. Kanna se aanneem-ouers sien sy potensiaal raak en moedig hom aan om ‘n opvoeding te kry en te ontsnap van die onderdrukking in Suid-Afika en Distrik Ses. Hy presteer bo verwagting, maar in die buiteland. Vir Makiet, sy vriende en sy familie word sy terugkeer ‘n simbool van hoop. Die produksie wentel rondom hierdie afwagting van Makiet dat Kanna eendag sal huistoe kom.
Uiteindelik kom hy huistoe – maar net vir Makiet se begrafnis. Kanna kan nie meer inpas by die leefwyse van sy Suid-Afrikaanse verlede nie.
Hierdie storie speel af teen die agtergrond van sosiale en politieke gebeurtenisse, maar die menslikheid van die drama bly tydloos. Sosiale temas soos verkragting, moord, apartheid, godsdiens en armoede word onder die soeklig gebring. Die spel in hierdie verhaal is nie chronologies nie. Die mense in hierdie verhaal praat met mekaar oor afstande, jare en die dood heen. Die wat naby is dink aan die wat ver is; die wat lewe onthou die wat dood is… In Small se eie woorde: “… wanneer hulle hulle eie geskiedenis leer ken, leer hulle om hulle eie stories te vertel…”
Dit sal die eerste keer wees sedert die ontbinding van die vorige Uitvoerende Kunsterade in 1997 dat ‘n dramaproduksie op so ‘n groot skaal deur die provinsie sal toer. Die toer skop af op 8 Augustus tydens Afrikaanse Week in Paarl, en toer daarna na 21 ander dorpe in die Wes-Kaap. Die rolverdeling sluit in Jackie van den Heever as Makiet, Mary Daniels as Roeslyn, Kaashief Nooradien as Jakob en Maurice Paige as Kanna.
Regiseur, Royston Stoffels sê: “Ons wil met hierdie produksie ook hulde bring aan een van die Wes-Kaapse helde in Afrikaans – Adam Small – omdat ons glo dat sy blywende teks kan dien as katalisator vir jong mense om die universele verknorsing van hawelose mense te verstaan.”
Premier Ebrahim Rasool sê die storie van Kanna is bekend aan die meeste Suid-Afrikaners voor 1994. Armoede, die onregverdige balans in die destydse regering se welsynsbeleit, die Distik Ses uitsettings en die impak wat Apartheid op families, vriende en gemeenskappe gehad het.
Mnr. Rasool sê dat Dr. Adam Small se werk, wat nou 40 jaar nadat hy dit geskryf het vir die mense van die Wes-Kaap toegangklik is. Vandag kan ons almal die bevrydingsstryd herdenk deur ons menseregte en dat ons nou kan bou op ‘n beter toekoms vir almal